Die ATKV se Overberg-tak het Shaun Cairns van seed2harvest genooi om ’n werksessie oor organiese boerdery by Tafelronde Herberg aan te bied. By die geleentheid was Jeneve Swart, Andy Cloete, Franceska Groenewald, Shaun Cairns en Gielie Botha. Foto: Mitzi Buys


Erfenisdag, wat elke jaar op 24 September gevier word, is vanjaar op verskeie plekke en op verskillen­de maniere in en om Caledon gevier.

Dit het gewissel van winkelpersoneel asook plaaslike inwoners in kleurryke tradisionele drag, sportbyeenkomste vir die jeug en ’n besonder interessante werksessie oor organiese boerdery.

Die ATKV het Shaun Cairns van seed2harvest genooi om ’n werksessie oor organiese boerdery by Tafelronde Herberg aan te bied.

Franceska Groenewald, voorsitter van die Overberg se ATKV-tak, sê: “Dit lê ons na aan die hart dat [inwoners van] die Herberg onafhanklik moet wees deur hul eie groente te kweek. Ons het drie jaar gelede die kundigheid van Jeneve Swart, wat ’n passie vir tuinbou het, ingekry om ’n groentetuin te begin. Sy doen dit uit die liefde van haar hart en het ook al heelwat borge gekry wat haar hand vat om dit moontlik te maak.

“Vandag gaan ook oor om nog meer mense te help en om die insig te gee dat hulle ook in hul agterplaas groente kan kweek. Aangesien dit Erfenisdag is, gaan ons ook lekker braaivleis vir die inwoners en die gaste voorsit.”

Shaun Cairns het seed2harvest vier jaar gelede gestig en bedryf die onderneming oor Suid-Afrika heen asook in Lesotho, Namibië en Zambië. “Ons verbintenis met die ATKV het drie jaar gelede begin toe ons, ons groentetuin-projekte deur ons organiese beginnerstelle van stapel gestuur het.

“Ons leer en wys mense almal kan groente kweek. Ons is nie hier om mense te vertel wat hulle verkeerd doen nie, maar eerder om hulle verskillende tegnieke en strategieë te wys oor hoe om in harmonie met die natuur te werk,” sê Cairns.

Van sy praktiese wenke was dat beddings altyd van noord na suid aangelê moet word, want sodoende kry dit meer son en lewer ’n groter oes. ’n Eenvoudige reël is dat beddings ’n graaflengte breed moet wees, met ’n hark se tandbreedte as breedte vir openings tussenin.

Die organiese bemestingstowwe wat deur seed2harvest vervaardig word, is in die nuwe beddings gebruik voordat die saailinge geplant is. “Op dié manier kan enige stuk grond waar jy groente, of selfs blomme, wil plant, benut word.”

Andy Cloete van die ATKV se jeugtak in die Strand het ook die sessie bygewoon. “Ek wil die jeug graag leer om ’n gemeenskapstuin aan te lê om hulle bewus te maak van organiese boerdery in die kleine. Hulle kan hulle daardeur ook ekonomies bemagtig, want hulle kan ’n onderneming uit die opbrengs van die tuin begin. Hulle kan deur die organiese verbouing van groente ook baie gesonder eet.”

Jeneve Swart sê: “Ek het die tuin hier by die Herberg begin om hulle te help om selfversorgend te wees as dit by groente kom. Die idee is om later selfs van die groente te verkoop sodat ander mense ook daarby kan baat vind.

“Die werksessie was baie leersaam en dit was wonderlik om sulke kundigheid te kry.”

Die siklus van plant tot oes neem ongeveer drie maande en ek sal een keer per maand kom inloer om te kyk hoe dinge vorder en om hulle te mentor. Daar sal ook ’n aanlyn mentorskap wees per WhatsApp vir die groep wat die werksessie bygewoon het,” het Cairns genoem.

Vir verdere inligting besoek die webtuiste www.seed2harvest.co.za. Die Emoji Movement in samewerking met die Caledon-museum, die Caledon-biblioteek en Beyond Black Mountain het ’n familie-pretdag in Myddleton aangebied. Verskeie speletjies is met die kinders gespeel en mense kon verversings by stalletjies koop. Janine Botha van Emoji Movement sê: “Ten spyte van die feit dat ons die hele dag ’n kragonderbreking ervaar het, het almal heerlik gekuier. Baie ouers het gekom om ’n vleisie te braai en almal het dit so geniet dat hulle eers laatmiddag huis toe is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article