“Die wonder van engele hier op aarde” was die tema vir die Vrouedag-oggendtee wat die ATKV-Overberg-tak aangebied het.
Met hul aankoms is gaste met ’n heerlike koppie warm sjokolade getrakteer voordat hulle by die keurig gedekte tafels, versier met ’n engel-tema, plaasgeneem het.
Die gasspreker, Maretha Giliomee, het ’n baie interessante praatjie oor engele gelewer en die gaste by tye nie net laat skaterlag nie, maar ook interaktief laat deelneem aan die praatjie.
Elke gemeenskap het ook hulle engele wat op ’n stil en beskeie manier hulle gemeenskap dien en ophef. Vier van hierdie aardse engele is tydens die geselligheid deur die ATKV vereer vir hulle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap. Hulle is:
• Nicy Fouldien, skrywer en digter, vir haar letterkundige bydrae.
• Berinda Botha vir haar sosiaal-maatskaplike werk.
• Lizël Kimber vir natuur- en omgewingsbewusmaking.
• Stella Augustyn vir haar groot musiekbydrae by skole asook kerke.
Hermanus Times het vir twee ontvangers gevra wat hierdie eerbewys vir hulle beteken. Nicy Fouldien sê: “As jy lief is vir iets en jy doen iets wat vir jou amper soos tweede natuur is, verwag jy nie om erkenning te kry nie, maar dit is vir my ’n besondere eer.”
Lizël Kimber van Beyond Black Mountain sê: “Dit was onverwags en ’n groot verrassing. ’n Mens doen nie iets in die gemeenskap vir toekennings nie, maar dit voel goed om erkenning te kry en te weet dat dit wat jy doen raakgesien word.”
Elize Fortuin, streekbestuurder van die ATKV-takke in die Wes-Kaap se kommentaar oor die geleentheid was: “Ek is trots op hierdie tak oor wat hulle verrig in die gemeenskap en ook dat hulle vroue trakteer op hierdie dag en om hulle kreatiwiteit te ontwikkel en hulle vrouwees te vier.”
Franceska Groenewald, voorsitter van die ATKV-tak-Overberg, sê: “Ek is baie tevrede met die opkoms en ook dat ons kon deel oor wat in die gemeenskap en ons instansie aangaan. Die terugvoer van die mense se dankbaarheid dat hulle hier kon wees en deel kon wees van die verryking wat hulle deur so ’n oggend kry beteken baie.”
Na die toesprake is heerlike sop en tuisgebakte brood bedien waarna die gaste elkeen self ‘n sleutelhouer en ‘n stel oorbelle, met engel-tema natuurlik, gemaak het.
Nie net het die gaste ’n ATKV-sak propvol geskenkies by hul aankoms ontvang nie, maar die verrigtinge is afgesluit met ’n lootjietrekking waar elkeen iets gewen het.





