Huldeblyke stroom sedert Vrydag in ná die nuus van die dood van ’n bekende Suid-Afrikaanse narkotiseur wat die afgelope 19 jaar in Vancouver, Kanada, gewoon het, op Mount Everest in Nepal.

Dr. Pieter Swart (63), wie se familie, onder wie sy 97-jarige ma, Charlotte, steeds in Kleinmond woon, het volgens berigte siek geword terwyl hy saam met ’n maatskappy genaamd Madison Mountaineering die kruin probeer bereik het.

Om Everest se kruin te bereik, was glo ’n lewenslange droom waarvoor hy lank voorberei het. Die noodlot het egter toegeslaan toe Swart volgens berigte hoogtesiekte opgedoen het.

Hy het glo verlede Dinsdag laas met sy familie kontak gemaak om hulle in te lig dat hy brongitis het en moes omdraai.

Kamp IV is meer as 8 000 m bo seevlak en staan bekend as die doodsakker.

Swart het foto’s van sy reis sowel as kort inskrywings op Instagram geplaas. Sy laaste inskrywing op 16 Mei lees: “Ice climbing in the Khumbu Icefall today. Perfect day.”

Hy het ook op 14 Mei ’n foto geplaas en geskryf van sy ontmoeting met die Suid-Afrikaanse klimmer en avonturier Remy Kloos en genoem hy droom net daarvan om op die hoogste plek op die planeet te staan.

Indien hy sy droom verwesenlik het, sou hy die oudste Suid-Afrikaner gewees het wat Everest se kruin bereik het.

Die familie is verlede Donderdag deur die Nepalese regering van sy heengaan ingelig.

Die Hermanus Times het Swart se familielede vir kommentaar genader. Sy suster, dr. Marelize Swart, het geantwoord dat die familie rou en nie kommentaar wil lewer nie.

Die Overstrand-munisipaliteit se raad en personeel het hul medelye met Swart se familie betuig.

Sy ma is alombekend in die Hangklip-omgewing en die familie besit die twee huise by Palmietstrand.

Sy sibbe Marelize en Werner Swart woon in Kleinmond en hul jongste suster Charlotte woon in Vosburg.

Hy word ook oorleef deur sy vrou, Suretha, en kinders Marna en Pieter.

Swart se dood het die sterftesyfer die afgelope seisoen op Mount Everest tot 12 laat styg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article