Die Hermanus Kalfiefees gaan die bekroonde Amanda Strydom met Coenraad Rall Saterdag 8 Julie na Hermanus bring waar sy haar bekroonde State of the Heart gaan opvoer.
Strydom het State of the Heart in 1993 geskryf, die eerste van tot dusver ses eenvrouvertonings uit haar pen. Ian Roberts was regisseur. Vanjaar is hierdie stuk (wat kultusstatus bereik het), 30 jaar oud, maar nog lank nie koud. State of the Heart het die Dalro- en Showtime-toekennings gewen vir beste kabaret en “Show of the year” in 1994 en sy voer dit steeds op publieke aanvraag op. Hierdie tydlose liefdesverhaal steek op ’n teer wyse die draak met ou Afrikaner-tradisies en kyk na die geskiedenis van Suid-Afrika van die jare twintig tot sewentig. Vooroordele tussen mense word tegelykertyd subtiel, skreeusnaaks en hartverskeurend bekyk. Die wreedheid van oorlog, die passie van ’n hart wat bly glo, ten spyte van teenslae, dat die liefde sal seëvier, word ook in hierdie kabaret blootgelê.
Dit was ’n tyd toe vroue hulle plek moes ken, hulle velle gebleik het as hulle sproete gehad het, mans kruisbande gedra het, Springboktwak gerook het en Boeremeisies net met Boerseuns getrou het. Dit was ook in hierdie tyd dat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.
Wanneer die heldin van die verhaal, die Afrikaanse Maxie de Meyer, op ’n Engelse loods Raymond G.Bartlett verlief raak, spat die vonke behoorlik en ontplooi daar ’n liefdesdrama in die tradisie van die ou Springbokradio-vervolgverhale. Strydom vertolk op meesterlike wyse ál die rolle – van die knorrige Oupa Dikdaniël, die heldin Maxie, haar kindervriend Sipho Motsepe, Stoffelina du Plooy van die Langekloof en die hele orkes uit die Baviaanskloof wat by haar troue musiek moet maak, Dolly Parton, Maxie se broer Willie, die stywe bolip Frances Pennington-Smythe en ’n horde ander karakters.
Amanda sing ook in ses tale: Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Hollands en Zoeloe. Die vertoning begin om 18:00 en kaartjies is by Computicket beskikbaar.





