Dit word aan die einde van Julie uitgesaai en vind in Struisbaai plaas en om alles te kroon, is een van die deelnemers ook ’n inwoner van die mooi stranddorpie.
Die koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET.
Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha, op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier – ’n onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos. Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en / of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Hermanus Times het met die plaaslike onthoubraaier, Francois de Wet (51) gesels.
“Dit was eintlik ’n gelukskoot dat ek aan die reeks deelgeneem het. Ons vervaardig ons eie braaitoerusting en wou net ’n platform soek om ons braaitoerusting te bemark en toe eindig ek op voor die skerms,” vertel Francois.
Francois, wat nou al 15 jaar in Struisbaai woon, het al orals in die wêreld gebly – van Spanje, Italië tot in Kanada. In Suid-Afrika het hy ook al orals gewoon, maar dit is Struisbaai wat hy sy tuiste noem. “Ek het in Gauteng gewerk en gewoon en nadat my pa siek geword het na Struisbaai verhuis en nooit weer teruggegaan nie,” vertel hy.
Hy kyk nie terug nie en sê local is lekker. Dit is ook in Struisbaai waar hy sy braaitoerusting, Infinity Stainless Steel, vervaardig. Kyk ’n mens na hul webwerf, www.365.com, kom jy gou agter dat dit nie net ’n agterplaas-fabriek is nie, maar ’n gerekende industriële onderneming wat van krag tot krag gaan. “365 gaan oor die gehalte vlekvryestaal wat ons vir ons produkte gebruik. Ons verkoop alles, van braaitange tot braairoosters en rokers. Daar is werklik iets van alles,” vertel hy trots.
Oor sy ondervinding wat hy tydens die verfilming van die reeks opgedoen het, kan hy ’n boek skryf. Hy vertel dat hy seker die enigste een is wat nog nooit voorheen op televisie was nie en boonop die oudste deelnemer ook. “Ek was die TV-maagd en die oudste en het gewapen met my ma se 1965-Kook en Geniet daar aangekom – sy is verlede jaar oorlede en ek het ‘haar’ maar saamgebring vir inspirasie,” vertel hy.
Volgens hom gaan Kokkedoor Vuur & Vlam nie oor jou Sondagmiddag-braai op jou grasperk nie, maar oor alles van hoe om jou eie wors te maak, snitte te sny tot om koekies op die vuur te kan maak. Hy vertel ook dat tyd ’n groot rol gespeel het in die reeks. “Jy moes altyd under the gun operate en dan mense beïndruk wat vol nonsens is,” sê hy “Dit was druk en die spanning het maar hoog geloop onder ons deelnemers.”
Volgens hom bestaan die reeks uit Onthou- en Kinkelbraaiers met die twee beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha wat hulle geregte dan onder oë gehad het.
“Daar is Onthoubraaiers en Kinkelbraaiers. Ons Onthoubraaiers is eintlik die amateurs en die Kinkelbraaiers die kenners wat almal al by restaurante gewerk het of hul eie restaurante het of selfs spyseniering gestudeer het. Van die Kinkelbraaiers het by by die bekroonde Michelin-sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen gewerk en selfs by Bertus Basson. Ek het baie by hulle, die ander deelnemers en selfs die aanbieders geleer,” vertel Francois.
Vir hom bly die lekkerste die eenvoudige braai van ’n Karootjoppie of ’n lamsribbetjie oor die kole met die vetjie wat so lekker saam braai. “Dit bly my gunsteling-braaigereg, maar so moeilik om te bekostig. Die skape is ook mos deesdae aan inflasie gekoppel en die pryse van skaapvleis styg saam met die inflasie. Met moeite en goeie voorbereiding kan jy enigiets op die kole braai – dis ook iets wat ek geleer het tydens die verfilming, maar ek trek ’n streep by polonie,” skerts hy.
Om meer oor Infinity Stainless Steel uit te vind, besoek www.365.co.za. Volgens Kobus versprei hulle landwyd en is al die produkte en kontakbesonder-hede op hul webwerf.





