Jaco Koen van die Funky Force Youth Programme is geen onbekende wanneer dit by die ontwikkeling van jeugtalent kom nie en het al baie jeugdiges met skryfwerk, musiek, dans, modelleerwerk en nou ook toneelspel gehelp.
“Ja, ons maak nou ook movies en het die Funky Force Youth Development Movie Center gestig,” noem Koen aan Hermanus Times. Hy sê hy het verskeie jong filmmakers by die projek betrek en dit is ook ’n goeie geleentheid vir jong mense wat in die kortflieks speel, om hul toneelspeltalent te ontwikkel. Die eerste reeks kortflieks wat onder meer in Riviersonderend, Caledon en Botrivier verfilm is, maak nie net gebruik van plaaslike talent nie, maar bou ook ’n verhouding met plaaslike sakeondernemings. Die flieks, wat op YouTube beskikbaar is, takel ook maatskaplike probleme soos dobbel- en dwelmverslawing in gemeenskappe.
Koen beoog om nog verskeie jong filmmakers en akteurs by die projek te betrek. Kontak hom by 083 394 4425 vir verdere inligting.





