’n Groep werkers van Akkedisberg Boerdery Edms (BPK) het bewys dit is die moeite werd om sewe sakke sout saam op te eet . . .
’n Groep werkers aan die voet van die mees suidelike bergreeks in Afrika bewerk en versorg al dekades lank grond en wingerde in die bekroonde Overberg-wynstreek. Nou is dié werkers van Akkedisberg Boerdery Edms (BPK) die trotse eienaars van ’n eie handelsmerk én storie.
Die opwinding is tasbaar in die fynbos-seelug op die bekende wynplaas Raka, tussen Caledon en Stanford. Dit is hier waar 20 lede van Akkedisberg verlede maand hul eerste wyn, Southern Treasures Pinotage 2021, bekend gestel het. Akkedisberg Boerdery, ’n maatskappy met ’n trust as aandeelhouers en begunstigdes, is in 2013 gestig. Hulle huur 16 hektaar grond van Raka teen ’n nominale bedrag met ’n 30-jaar-ooreenkoms.
“Hierdie is ’n storie oor ’n gerespekteerde familieonderneming, die Dreyer-familie, ’n toegewyde mentor wat saam met hul werkers ’n reis onderneem het om ’n droom te skep en te bou,” sê Wendy Petersen, uitvoerende bestuurder van die SA Wynbedryf se transformasie-eenheid (Sawitu). “Die storie agter die nuwe handelsmerk is hoe hierdie gemeenskap as een lewe met dit wat die natuur hulle bied en hoe hulle ’n wedersydse waardering het. Nou is ’n verborge skat uit die Kleinriviervallei in ’n bottel vir almal om te geniet en te waardeer.”
Die skatte in die naam Southern Treasures verwys na die mense wat hierdie bemagtigingsprojek moontlik gemaak het. Volgens Petersen beskryf die uitdrukking “ ’n sak sout saam met iemand opeet” nie goed genoeg wat hierdie projek binne 10 jaar reggekry het nie. “Dis eerder sewe swaar sakke sout wat die werkers van Akkedisberg en die eienaars van Raka in 16 hektaar van hoop omskep het. Hulle inspireer die hele gemeenskap.”
Onder leiding van hul mentor, Josef Dreyer, en hul twee direkteure, Mariëtte Moos en Christel Moses, stel Akkedisberg se trotse groep mans en vroue nou hul eerste vat-verouderde Southern Treasures Pinotage 2021, gemaak van druiwe uit hul eie wingerde, bekend.
Die 37-jarige Dreyer het op die plaas Raka grootgeword, aan Elsenburg gestudeer en die wynmakery in 2007 by sy pa oorgeneem. Dié bekroonde wynmaker het van kleins af beleef hoe sy pa by die tye aangepas het, sitrus op die plaas met wingerd vervang het, ’n kelder gebou het én ’n bemagtigingsprojek in die visbedryf staangemaak het.
“Ek kén die mense,” sê Dreyer oor sy Akkedisberg-kollegas. “Ons werk saam en het ’n goeie verhouding. Daarom was dit belangrik om ook vir hulle ’n geleentheid in die landbou te skep en te vestig.”
Volgens Dreyer is die hoofdoel van die projek om werkers te bemagtig deur vaardighede aan hulle oor te dra.
Moos (48), ’n direkteur van Akkedisberg, het in die Boland en so te sê in die wingerd grootgeword. Haar man, Andrew Moos, is Josef se linker- én regterhand in die kelder. Die gesin woon en werk reeds twee dekades op Raka.
“Ek is baie lief vir die wingerd,” sê Mariëtte, wat nie hoërskool voltooi het nie, maar reeds op 16-jarige ouderdom in Wellington voltyds in die wingerd begin werk het. Sy sê sy het nooit kon droom dat sy haar eie wingerd sou verbou of ’n eie wyn sou bekendstel nie.
“Piet Dreyer en sy seun Josef het ons oor baie jare aangemoedig om deel te raak van ’n bemagtigingsprojek en net nooit opgegee nie,” sê sy. “Die projek en ook die mense wat ek oor die afgelope agt jaar ontmoet het, is vir my baie inspirerend. Nou weet ek dat ek iets kán doen – nie net vir myself nie, maar ook vir mense rondom my. Dit is werklik ’n goeie ding wat die Dreyers gedoen het.”
Moses (43) werk nie net in Raka se proelokaal, waar sy help met administrasie, aflewerings en wynproeë nie – sy is ook sedert 2022 ’n direkteur van Akkedisberg.
Moses het op die plaas Rietpoel naby Riviersonderend grootgeword en was in Caledon op hoërskool. Al het sy nie matriek voltooi nie, is sy rekenaarvaardig en het sy al ’n plaaswerkertoekenning ontvang.
“Ek leer elke dag iets,” sê Moses. “Dit is wonderlik hoe Raka se eienaars alles in hul vermoë doen om ons te ondersteun – Piet Dreyer, wat gevoel het hy wil saam met sy werkers die paadjie stap, en Josef, wat as wynmaker en mentor hand-aan-hand saam met ons werk en finansiële raad gee.”. Vir meer inligting oor die wyn, stuur e-pos na info@southerntreasureswine.co.za of skakel 028 341 0676.





