Op 8 Mei 2025 word ’n groot mylpaal behaal wanneer die mooiste taal haar eeufees vier.
Afrikaans is reeds baie ouer as 100 jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het. Afrikaans Amptelik 100 vier ’n mylpaal binne die langer bestaan van ons pragtige taal.
Op 8 Mei 2025 staan ons taal 100 jaar sterk binne haar erkende amptelikheid, maar haar storie begin nie in 1925 nie. Haar komvandaan strek terug na die 1500’s met haar eerste klanke geskep deur ons Khoi-voorouers wat in die kombuis ’n omgangstaal moes skep om haar baas te verstaan en andersom.
Vandaar die eerste vorm van ons taal: Khoi-Afrikaans, wat na kombuistaal verwys. Sy groei tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skrif in die Bo-Kaap opgeteken word. En sy bly groei. Sy groei ten spyte van politieke kaping en misbruik; van ’n kombuistaal tot ’n universiteitstaal. Hoe trots kan ons nie wees nie!
Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde; van die hof tot in die kerk; van vermaak tot die wetenskap. Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat sy ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.
Hierdie taal, wat aan die suidpunt van Afrika staanplek gekry het en soos ’n reusekremetartboom haar wortels geskiet het, het van kombuistaal gegroei na ’n taal wat vandag deur die derde meeste mense in Suid-Afrika gepraat word. Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas isiZulu (24,4%) en isiXhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6% moedertaalsprekers in die land.
“Afrikaans is sag soos ’n vrou. Afrikaans kan ook hard wees soos ’n grondpad. Afrikaans is ons ma en ook ons kinders. Afrikaans is Hollands bruingebrand deur die Afrikason, gesnoei en vaartbelyn gemaak deur jare van sensuur en swaarkry,” het Koos Kombuis eens in ’n toespraak gesê.
Afrikaans Amptelik 100 sien hierdie veldtog as ’n geleentheid om gesprekke tussen verskillende taalgemeenskappe oop te maak.
Van nou tot dan bestaan verskeie projekte en aksies saam met medewerkers en vennote om hierdie groot mylpaal te vier – van skolekompetisies, entrepreneursprojekte en nuwe storieboeke tot kompetisies van liedjies skryf en kosmaak. Die belangrikste van alles is dat almal se Afrikaans gevier gaan word – van Standaardafrikaans tot Kaapse Afrikaans; van Gariep-Afrikaans tot Afrikaans noord van die Oranjerivier.
Afrikaans as taal is ’n huis met baie kamers, en dit is juis daardie diversiteit en kragtigheid wat gevier gaan word. Dié veldtog maak die deur wyd oop om almal welkom te laat voel en in te sluit by die groot gesin van Afrikaans.
Die span wat Afrikaans Amptelik 100 koördineer, is Giep van Zyl (nasionale koördineerder) en René Arendse (nasionale adjunk-koördineerder). Indien jy as individu, instansie of sakeonderneming betrokke wil raak, besoek afrikaans100.org en ondersteun die veldtog deur die aanlyn vorm te voltooi, of stuur e-pos na info@afrikaans100.org





