AfriForum se Overstrand-tak kyk nie net na die veiligheid van die Hermanus-inwoners nie, maar is ook altyd besig om iets positief in die gemeenskap te doen.
Die inwoners van die kusgebied Onrus het onlangs ’n langverwagte transformasie by die speelpark in Douglasstraat aanskou toe AfriForum se Overstrand-tak die eens vaal klimrame met ’n vars laag verf ingekleur het. Lede van die gemeenskap en die takbestuur het nuwe lewe in dié park geblaas deur elke klimraam, swaai en glybaan met helder kleure oor te verf.
Verskeie rolspelers, soos BUCO Hermanus wat die verskeie kleure verf vir die klimrame geskenk het, het gehelp om van dié projek ’n sukses te maak. Hierdie bydraes het nie net toegesien dat talle kinders weer opgewonde is om in die park te speel nie, maar het ook ’n gees van samewerking onder die gemeenskap gekweek.
“BUCO Hermanus se ondersteuning is ’n sprekende voorbeeld van die impak wat gemaak word wanneer individue en organisasies kragte saamsnoer vir ’n gemeenskaplike doel. Hierdie projek verteenwoordig die gemeenskap se gedeelde verbintenis tot die verbetering van die omgewing en hul waardering vir openbare ruimtes en die instandhouding daarvan,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.





