Die slangvanger Eduanne Niemand en ‘n Kaapse Kobra. Foto: Eduanne Niemand/ Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control

Die groen boomblare is ‘n bewys van die nuwe seisoen wat aangebreek het namate die koue weer terugtrek en vir die warm son plek maak. So ontwaak verskeie diertjies ook uit hul winterslaap om weer in die lenteson te bak.

Die slangvanger Eduanne Niemand vertel die volgende: “Die slangseisoen is aan die go. Pofadders teel gewoonlik gedurende September. Dis hoekom hulle nou so baie teëgekom word. Ek het onlangs ‘n tamaai pofadder van 1,85 kg hier op ‘n landgoed gevang.”

Hy sê op warm dae kom pofadders uit om hul “batterye te recharge”.

“Die pofadders raak nou weer ‘n bietjie stil. Die afgelope twee weke was nie so besig nie. Dit is nou weer kobra-tyd.”

Eduanne sê wanneer ‘n mens op ‘n slang afkom, moet jy net ‘n paar treë agteruit loop en ‘n veilige afstand van sowat vier meter hou. “As jy in die huis stap en jy kom op ‘n kobra af, gaan hy gewis sy kop oplig en bakkop maak, maar as jy stilstaan, gaan hy onder iets soos ‘n yskas of ‘n rusbank wegkruip – iewers waar dit donker en onder iets is. Dan kan jy maar geraas maak, want dan bly hy net daar. Dit help nie jy hol pad toe en dan kom die slangvanger oor ‘n halfuur eers daar en jy staan in die pad en dan moet hy die hele huis deursoek nie. Geen slang jaag jou nie. As jy hom van ‘n veilige afstand af dophou, sal jy kan sien wanneer hy van die yskas na byvoorbeeld die vrieskas toe seil.”

Wanneer ‘n mens ‘n slang op jou erf of in die huis teëkom, sê Niemand, moet jy dadelik die honde ook bêre. “ ’n Slang raak deurmekaar as ‘n hond langs hom begin blaf . Hy het mos nie ore nie – hy het egter ‘n gehoorbeen­tjie, wat die vibrasie opvang, en ‘n hond irriteer ‘n slang. Honde jaag graag ‘n Kaapse kobra in ‘n boom op omdat hy so aanmekaar staan en blaf en dan wil die slang net wegkom. Die beste is: Beweeg agteruit en staan doodstil. As ‘n slang jou sien, sal hy onder iets wegkruip.”

Volgens Eduanne, wat aan die stuur van Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control is, moet mense na die netheid van hul erf omsien, want enige onnetheid kan slange lok.

“Blare in ‘n tuin onder struike moet opgehark word sodat dit skoon is. Sny die bossies so 30 cm van die grond af oop sodat jy kan sien. As daar blare lê, kom die muise, en as daar muise is, kom die slange. Met water features soos fonteintjies kom daar altyd slange, want daar is paddas. Daar is muskiete, wat die paddas lok, en dan kom veral ‘n kobra op soek na ‘n padda om te vreet.”

Slange kom nie juis by vensters in nie, maar eerder by deure wat oop staan wanneer dit buite warm is, meen Niemand. “As dit warmer as 30 °C is, maak maar jou huis se deure toe, anders gaan ‘n kobra, wat buite warm kry, in die huis kom afkoel. Dan verdwaal hy in die huis en dan loop jy hom die een of ander tyd in jou huis raak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article