Aartappelboere van Christiana in Noordwes het verlede week hul harte oopgemaak aan inwoners in storm-geteisterde gebiede in die Wes-Kaap toe ’n vrag van meer as 30 ton aartappels in die provinsie afgelewer is.
Dié aartappels is na verskeie voedingskemas, sopkombuise en ander liefdadigheidsorganisasies versprei, in gebiede waar inwoners dakloos gelaat is weens die verwoestende stormweer van Sondag 7 April.
Die Drakenstein-munisipaliteit is een van die gebiede wat die hardste deur die storm getref is. Laurichia van Niekerk, die portefeuljehouer vir beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het gesê die Gauteng-gebaseerde organisasie, We Are South Africans, het gehelp om die skenking aan die provinsie moontlik te maak.
“Hulle het aanvanklik uitgereik na ons plaaslike sakekamer weens die skade wat veroorsaak is tydens die onlangse storm. Drakenstein het ’n donasie van sowat 6,6 ton ontvang. Dit is 220 sakke wat elk ongeveer 30 kg weeg. “Die organisasies hier betrokke werk daagliks met honderde mense in ons gemeenskappe en daarom het hulle die donasies ontvang en sal dan verseker dat dit by voedingskemas en sopkombuise uitkom.”
Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester, het Vrydag in ’n video ook sy dank aan die boere uitgespreek. “Dit gaan ’n groot verskil maak en ek wil net baie dankie sê aan ons aartappelboere – en ons boere. Ek is so dankbaar vir Suid-Afrika se boere wat altyd vrygewig is en altyd die versoek vir hulp beantwoord sonder enige huiwering.




