Bianca Adonis ervaar fisieke sowel as emosionele pyn ná die aanval op haar en haar gesin. Foto: Bianca du Plessis


’n Vrou van Hawston leef in vrees nadat sy na bewering met ’n groot klip of baksteen teen die kop gegooi en aangerand is voordat haar aanvaller volgens berigte ook petrol oor haar gegooi het.

Dit het na bewering gebeur toe Bianca Adonis (42) om verskoning wou vra omdat sy tydens ’n vroeër onderonsie met haar beweerde aanvaller – toe hy haar volgens berigte weggejaag het nadat sy ’n sigaret gevra het – sy ruit uitgegooi het.

“Hy het my rondgeruk en ek wou hom met die klip gooi, maar dit was mis en die venster het gebreek,” het sy vertel.

Volgens Bianca het sy verder gestap en op pad na haar huis besluit om om verskoning te gaan vra. “Hy het my nie kans gegee om te praat nie. Hy en sy meisiekind het my getakel. Sy het met my begin stoei en ek het haar teruggeslaan. Dis toe dat hy van agter af kom en die klip op my kop gooi. Ek het geval en hy het toe petrol oor my uitgegooi.”

Met haar aankoms by haar huis, vertel sy, het sy ontdek dat haar aanvaller, glo ene Denver du Plessis, na bewering haar ruite stukkend gegooi en ook petrol rondom haar huis uitgegooi het.

Sy het volgens ’n verslag beserings aan haar arms en bene sowel as haar bors opgedoen en moes ook steke aan haar kop kry. Die aanval het ook emosionele letsels gelaat.

Bianca vertel sy voel “heeltyd senuweeagtig” en skrik vir alles.

“Sy familie het my buite die hof harass. Dit laat my bang voel en vrees dat al is hy binne, kan sy familie of vriende vir my kom omdat ek ’n saak gemaak het,” het sy aan Hermanus Times vertel.

Ondersteuning

Die DA-raadslid Elnora Gillion het gesê dit was verblydend om te sien hoe lede van die gemeenskap en verskillende politieke partye verlede week buite die hof saamgestaan het om die slagoffer te ondersteun en met plakkate betoog het om geregtigheid te eis.

“Die morele ondersteuning beteken geweldig baie vir iemand wat emosioneel en fisiek stukkend is. Ons bid dat Bianca sterk sal staan op die skouers van haar ondersteuners en dat ons gesamentlik ’n sterk boodskap uitstuur aan die geweldenaars wat geen respek vir kwesbare vroue en kinders in ons gemeenskappe toon nie.

“Ons pleit dat die (beskuldigde se) aansoek om vrylating geweier word en dat die landdros die talle vroue wat al omgekom het deur GBV – soos Juanicka Nita Willemse, Sisipho Mayile en soveel ander in die Overstrand en Overberg – in ag sal neem,” het Gillion bygevoeg.

Die ACDP-raadslid Rugene Dees, wat ook die provinsiale leier van die ACDP Women of Destiny is, sê die klein persentasie slagoffers van verkragting, aanrandings en poging tot moord wat met geslagsgeweld verband hou en wat wel klagtes aanmeld, is kommerwekkend.

“Dan het ons ook die slagoffers wat later die sake terugtrek en daarmee die idee gee dis oukei.

“Maar dit is nie!

“Daar is ook gevalle waar vroue wat dit wel aanmeld, deur mense in die samelewing gekritiseer, geïntimideer en geteister word. Vir vroue as die sogenaamde ‘swakker geslag’ is dit dikwels moeilik om vir jouself op te staan, en as aantygings rondvlieg dat jy ’n part gespeel het (in wat gebeur het), is ons geneig om klein te speel en die skuld te dra. Daarom is dit belangrik dat ons as vroue moet saamstaan om GBV uit te wis.”

Die sleutel tot die uitwissing van geslagsgeweld, glo Dees, is om die wortel van die probleem te soek en aan te pak.

“Die oortreders het dikwels issues soos anger management -probleme. Daar moet meer openlikheid hieroor wees en ons gemeenskappe het meer organisasies nodig wat van hulp kan wees sodat ons sulke kwessies kan aanspreek en GBV-statistieke kan laat daal.”

Tracey Henn van die Alliance of Citizens for Change (ACC), het gesê: “Die ACC verdra nie GBV nie en ons sal Bianca en haar familie tot die bitter einde ondersteun, want ons wil sien dat geregtigheid seëvier.”

Henn het haar kommer uitgespreek oor die toename in GBV-verwante sake. “Maar wat die kommerwekkendste is, is dat talle slagoffers kies om stil te bly daaroor, of, indien hulle wel ’n klagte aanmeld, dink hulle alles is in orde as die oortreder jammer sê en vir hulle geld gee. Dit stuur die boodskap uit dat dit oukeiis totdat die oortreder dit net weer en weer doen,” het sy bygevoeg.

Sy het ’n dringende beroep gedoen op vroue en kinders wat die slagoffers van geslagsgeweld is, om dit by die polisie aan te meld.

“Staan op en laat jou stem hoor. Genoeg is genoeg! Ons as vroue is nie op aarde geplaas om slaansakke vir geweldenaars te wees nie,” was haar boodskap.

Henn het ook gemeenskappe aangemoedig om mekaar in tye van nood te ondersteun en gesê: “Die gemeenskap van Hawston se ondersteuning binne en buite die hof was fenomenaal. Dankie aan Elnora Gillion, Rugene Dees en lede van die PA wat daar was. Dit het as bewys gedien dat ons ons gemeenskappe se hulpkrete ter harte neem.

“Die ACC vra dat almal ons petisie wat vra dat die doodstraf weer ingestel moet word, moet onderteken aangesien ons as belastingbetalers betaal vir moordenaars, verkragters en ander misdadigers om ’n gemaklike lewe in tronke te hê.”

Al die partye het aangedui dat hulle weer vandag (Woensdag 30 Oktober) by die hof sal wees om die slagoffer en haar familie te ondersteun wanneer die beskuldigde na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Die polisie het bevestig dat ’n saak van poging tot moord ondersoek word en dat die beskuldigde se borgaansoek teengestaan sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article