Drie gesinne van Mount Pleasant het groot skade gely ná ’n brand wat in die vroeë ure van Maandag 26 Julie uitgebreek het.
Die eienaar van die struktuur in Dankbaar-noodbehuisingsgebied waar die brand na bewering uitgebreek het, was volgens berigte nie tuis toe die tragedie afgespeel het nie. Dié vrou se struktuur is heeltemal verwoes. Die bure aan albei kante van haar woning het ook skade gely toe die vlamme na hul wonings versprei het. Geen beserings is aangemeld nie.
Maria Pieterse, ’n gemeenskapswerker, sê die mense het byna al hul besittings verloor. “Beddens, mans- en vroueklere en skoene, beddegoed en kos is wat hulle nou die nodigste het,” sê Pieterse. “Die vroue makeer skoene in grootte 5-6 en 34-36 grootte klere.”
Enigeen wat donasies van dié aard of enige boumateriaal of geld wil skenk, kan Pieterse by 073 465 8961 bel of die skenkings by Leeubekkiestraat 4, Mount Pleasant aflaai.
Overstrand-munisipaliteit se hoof van brand- en
reddingsdienste, Lester Smith, het bevestig dat die brandweer Maandag
omstreeks 03:41 na die toneel ontbied
is.
“Met ons aankoms omstreeks 03:51 is bevind dat meer as een
struktuur in vlamme was. Ons kon daarin slaag om die vuur teen 04:02 in bedwang
te bring. Een struktuur is in puin gelê en twee ander het uitgebreide
brandskade gely,” het Smith berig.
Volgens Smith is die oorsaak van die brand onbekend. Hy het
bevestig dat die rampbestuureenheid kospakkies aan drie gesinne voorsien het.





