Ariël Hugo: 23.06.1960 – 15.01.2022

Die gemeenskap van Caledon het met skok verneem van die skielike afsterwe van raadslid Ariël Hugo, wat Saterdag 15 Januarie aan ’n hartaanval dood is.

Hugo is in Montagu gebore en het op die familieplaas Middelburg grootgeword. Ná sy skooljare in Touwsrivier het hy op Elsenburg studeer. In die vroeë jare negentig het hy ook ’n B Comm-graad verwerf.

Hugo het later by die ou SA Wolraad gewerk en was tot sy dood as konsultant by ontwikkeling­sprojekte vir opkomende landbou betrokke.

Hugo was ook ’n stigterslid en voormalige voorsitter van die 61 Meg-veteraanvereniging. Hy het ’n lewendige belangstelling in politiek gehad en was met sy afsterwe ’n VF Plus-raadslid vir die Theewaterskloof-munisipaliteit.

Huldeblyke vir Hugo het van oor die land heen ingestroom. Die Theewaterskloof-munisipaliteit het by monde van Kallie Papier, die burgemeester, sy meegevoel met die familie betuig. In ’n roerende huldeblyk sê Derek Appel, TWK se speaker: “Die skielike heengaan van raadslid Ariël Hugo het ons almal onkant betrap. Dit was in alle gesprekvoering tussen my en raadslid Hugo opvallend dat hy groot planne gehad het om die gemeenskap van TWK se lewens te verander en hulle te dien. Hy het groot ervaring na die raad gebring en ons het nog baie planne gehad oor hoe ons sou saamwerk om die gemeenskap van TWK te verbeter.

“Hy was ’n bekende figuur in ons gemeenskap en sal baie gemis word. Dit was ’n groot eer om saam met hom as raadslid te dien, al is sy tyd vinnig kortgeknip.

“Namens die raad dra ek my innige simpatie aan die familie en sy wye vriendekring oor. Rus sag, ou grote. Mooi loop, raadslid Ariël Hugo. Tot ons weer ontmoet.”

Hugo word deur sy kinders, Francois en Cobus Hugo en Anmari Davids en ’n kleinkind oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article