Mense aan boord van ’n walviskyk-boot het verlede week ’n grusame ontdekking gedoen toe hulle ’n liggaam in die see sien dryf het.
Volgens die Hermanus-NSRI is hy Woensdag 15 Junie omstreeks 17:05 ontbied nadat die kommersiële boot-operateur hulle ingelig het van ’n liggaam wat ongeveer een seemyl suid van die Nuwe Hawe dryf.
Jean le Roux, Hermanus-NSRI se stuurman, het berig dat hulle die polisie van die vonds in kennis gestel en die seereddingsvaartuig Rotarian Burnett te water gelê het.
“Die liggaam is in ons reddingsvaartuig gelaai en na die hawe vervoer. Die liggaam is toe in die sorg van die polisie en forensiese dienste oorhandig,” het Le Roux verduidelik.
“Familielede van mense wat in die omgewing in die see vermis geraak het, word ingelig dat hulle die polisie en forensiese dienste moet kontak om te help met die identifisering van die liggaam.”
Kaptein Fadila September, ’n woordvoerder van Hermanus-polisie, sê ’n lykskouing en DNA-toetse sal gehou word om die identiteit van die oorledene te help bepaal.
“ ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen,” het sy bygevoeg.
Intussen is die liggaam van ’n man, wat drie weke gelede in die see naby Kleinmond gevind is, uitgeken.
Adjudant-offisier Martin Mostert, ’n woordvoerder van Kleinmond-polisie, het bevestig die man is positief as Kenneth James Cooper van die Strand wat ongeveer vier weke gelede vermis geraak het, uitgeken.
Cooper se liggaam is Dinsdag 7 Junie in die see naby Hangklip, tussen Kleinmond en Gordonsbaai, gevind. Polisieduikers en die NSRI-span van Kleinmond het die liggaam uit die see verwyder en aan wal gebring.
Mostert het bevestig dat ’n lykskouing gehou en ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen is.



