Die gewilde YearBeyond-program, wat by plaaslike biblioteke aangebied word, het nou uitgebrei om biblioteekgebruikers met rekenaarkundigheid by te staan.
Die Caledon-biblioteek het onlangs twee lede van die ICT-YeBoneers-kadetprogram gekry, wat hul dienste vir alle biblioteekgebruikers aanbied.
Yolanda Hofmeester, hoof van die Caledon-biblioteek, sê hulle is verheug om die twee jong ICT-kadette te hê. “Hulle is tot 30 November vir die publiek beskikbaar om mense met ’n verskeidenheid dienste te help. Dit sluit ’n wye reeks aktiwiteite in – van die opstel van CV’s tot basiese rekenaaropleidingsprogramme, wat op sekere dae aangebied sal word.”
Callun King en Curtley Fortuin, die twee ICT-kadette, sê hulle sien daarna uit om die publiek te help, hetsy dit vir die opstel van CV’s, hulp met navorsing vir skool- of kollegeprojekte of ondersteuning met verdere rekenaaropleiding is.
Fortuin sê ook die biblioteek sal binnekort luisterboeke vir siggestremde biblioteekgebruikers hê.
“Amgelica Zass van die Biblioteek vir Blindes was hier om vir ons meer inligting te gee asook opleiding. Boeke sal op ’n laserskyf beskikbaar wees en ons sal ook toestelle hê wat soos ’n klein bandmasjien werk, waarop boeke gelaai is.
“Biblioteeklede sal binnekort van hierdie diens gebruik kan maak.”
Vir verdere inligting oor die dienste wat beskikbaar is, kontak die Caledon-biblioteek by 028 214 3300 of stuur e-pos na Caledonlibrary@gmail.com.





