Sy talent is dadelik deur die groot skole raakgesien, en vandag presteer hierdie skrander kind van Bredasdorp vir Hoër Landbouskool Boland in die Paarl.
Jaeger Coetzee is ’n graad 8-leerder, wat met soveel talent spog dat hy kan besluit waaraan hy wil deelneem, en dan sal hy nog in sy gekose sport uitblink ook.
Hierdie voormalige leerder en hoofseun van 2021 van die Laerskool Bredasdorp se rugbybloed vloei baie dik in sy are.
Nie net was hy die voormalige baljoggie van die Bredasdorp Rangers-rugbyklub nie, maar hy speel ook losskakel vir Boland Landbou se o.14A-span en is daarbenewens vir die o.15-sewesspan van sy skool gekies om in September aan verskeie sewestoernooie te gaan deelneem. Een van dié toernooie word boonop deur Hoërskool Bredasdorp aangebied.
Jaeger spog reeds met vyf drieë hierdie seisoen, wat hy teen onderskeidelik Noord-Kaap tydens die Wildeklawer-toernooi en daarna in wegwedstryde teen Paarl Gim, Bishops (2) en Paul Roos gedruk het.
In krieket staan hy sy man as veelsydige speler en hy is die kaptein van die o.14B-span, wat vroeër vanjaar verskeie oorwinnings behaal het. Hy spog met ’n hoogste telling van 51* en beste boulsyfers van 3/6 in die reeks T20-wedstryde vroeër dié jaar. Hy was ook lid van die seëvierende o.14A-krieketspan, wat Oakdale in Riversdal geklop het.
As atleet spog hy met ’n hele paar byeenkomsrekords in hoogspring vir seuns onder 14, waar hy onder meer sy skool se interhuisrekord, die Boishaai-topseunskole se rekord en die interskolerekord in hoogspring verbeter het.
Hy spog ook met die Wes-Kaapse hoogspring- en 100 m-kampioenskapstitel vir seuns o.14.
Sy persoonlike beste in hoogspring is 1.86 m (Wes-Kaap-kampioenskap), in die 100m is dit 11.1sek. (Sentraal-Boland-byeenkoms) en in die 200 m is dit 23.54 sek. (Sentraal-Boland-byeenkoms).
Hy het aan die SA skolekampioenskap in April in Johannesburg in die o.15-ouderdomsgroep in hoogspring deelgeneem en ’n goeie vierde plek met ’n hoogte van 1.84 m behaal – dieselfde as die bronsmedaljewenner.
Jaeger het ook aan die Twizza- nasionale skoleatletiekbyeenkoms in Februarie in die o.15-groep deelgeneem en was derde in die hoogspring vir seuns o.15.
Wanneer hy nie sport oor naweke beoefen nie, is sy gunstelingtydverdryf om sy maats op die sportveld te ondersteun, soos onlangs by die Interskole tussen HSB en Montagu in Montagu, en ook om sy gunstelingrugbyklub, Rangers, se wedstryde by te woon.





