Die polisie op Vogelvallei-plaas waar die eienaar gewond en een van twee verdagtes doodgeskiet is.Foto: Hermanus buurtwag/ Facebook


Een verdagte het Maandag op aanklagte van betreding en poging tot moord in die hof verskyn ná ’n voor-val Vrydag (13 Januarie) waartydens sy vermeende makker doodgeskiet en ’n plaaseienaar gewond is.

Brig. Donovan Heilbron het ná die voorval verklaar dit was nie ’n plaasaanval nie, maar het eerder met die beskadiging van infrastruktuur op die plaas Vogelvallei verband gehou. Vogelvallei-plaas is langs die R43 tussen Kleinmond en Botrivier geleë.

“Twee mans wou na bewering infrastruktuur beskadig toe die slagoffer op hulle afgekom het. ’n Onderonsie het ontstaan en skote is gevuur. Die plaaseienaar en een van die mans is gewond en dié man is later dood.”

Die brigadier het voorts verduidelik dit word nie as ’n plaasaanval as sulks beskou nie omdat voorlopige ondersoeke aandui die verdagtes se doel was vermoedelik net om skade aan infrastruktuur aan te rig en goedere te steel; nie om die inwoners te beroof, te beseer, verkrag of te vermoor nie.

Kol. Joe Hartnick, die Caledon-polisie se speurhoof, het bevestig die plaaseienaar, wat deur Netwerk24 as dr. Russel Reuvers geïdentifiseer is, wou omstreeks 06:00 gaan ondersoek instel toe hy sy honde hoor blaf het.

Volgens Hartnick was een verdagte na bewering met ’n snoeiskêr gewapen, en die ander met ’n mes.

Hartnick het beklemtoon dit kan nie as ’n plaasaanval geklassifiseer word nie omdat “die aanval nie op die plaaseienaars of enige ander plaasbewoners gerig was nie.”

“Inligting tot ons beskikking dui aan dat die doel na bewering was om items te steel,” sê Hartnick.

Hy het bevestig die polisie het op die vuurwapen beslag gelê. Dit sal vir ballistiese toetse gestuur word.

“Twee dossiere is aangelê – ’n geregtelike doodsondersoek in verband met die verdagte wat doodgeskiet is, en een oor die klagtes van betreding en poging tot moord, waarop die oorlewende verdagte Maandag in die Caledon-landdroshof verskyn het,” het Hartnick verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article