Die toutrekkery oor wie verantwoordelik is vir die Hoërskool Grabouw se rugbyveld het uiteindelik tot ’n punt gekom.
Die onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) en ook ’n inwoner van Grabouw, John Michels, het op sy Facebookblad gesê: “Daar was die afgelope week ’n vergadering tussen TWK, die Hoërskool Grabouw High, Safcol- en Grabouw-rugbyklub. Ek self was teenwoordig en dit het gegaan oor die veld in die dorp en om dit gereed te kry vir die komende ligaseisoen.”
Hy het verder genoem dat ’n samewerkingsooreenkoms tussen die skool en TWK gesluit gaan word en dat TWK reeds ná die vergadering ’n voorgestelde ooreenkoms aan die skool en die klubs gestuur het.
“Indien daar ooreengekom word, wat ek glo sal gebeur, dan gaan dit ons as TWK toelaat om geld aan die opknapping van die veld te bestee. As onderburgemeester glo ek dat die ooreenkoms die komende week gefinaliseer sal word,” het hy verder gesê.
Daar is ook besluit dat daar van volgende week af nie meer vriendskaplike wedstryde op die veld gespeel gaan word nie om sodoende te verseker dat die speelveld reg sal wees vir die ligawedstryde.
“Ek wil dankie sê aan die skool en die twee klubs vir hul positiewe gesindheid rakende die uitdagings. Ek wil ook dankie sê vir die ander skole in die omgewing wat hul geriewe beskikbaar stel vir die klubs om te kan oefen. Voorspoed aan albei klubs met die seisoen wat voorlê,” het Michels gesê.
Verder het TWK ook bevestig dat werk aan Pineview-stadion gedoen gaan word.





