Haar saggeaarde seun is skielik van haar weggeruk . . .

Só vertel Mary Harris oor haar 38-jarige seun Danny van Rooy, wat verlede Saterdag (11 Februarie) in Kleinmond by die Palmiet-strandmeer verdrink het.

Van Rooy was van Grabouw, waar hy by sy ma in Pineview gewoon het. Familie en vriende beskryf Danny as altyd vriendelik en behulpsaam.

Dié geliefde Grabouw-inwoner se lewe is skielik kortgeknip ná wat bedoel was om ’n prettige Saterdag-uitstappie te wees.

“Danny het saam met vriende en familie vir die dag see toe gegaan. Sy niggie was ook by en alles was baie lekker. Danny het glo skielik in ’n maalkolk beland en net onder die water in verdwyn. Hulle het na hom gesoek, maar dit was tevergeefs,” het Yolandie Botha, Danny se suster, vertel.

Sy vertel ook dat die niggie die aand baie geskok was toe sy haar ma oor Danny se verdwyning ingelig het.

“Ons almal was die volgende dag (Sondag) na die plek waar Danny verdwyn het en was op die toneel toe hulle Danny [se liggaam] uit die water gehaal het,” vertel Yolandie.

Volgens ’n verklaring deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het hulle Saterdag omstreeks 11:50 ’n noodoproep ontvang. “Die oorledene het glo oor die strandmeer geswem en toe onder die water verdwyn. Sy vriende het alarm gemaak,” het Craig Lambinon, ’n NSRI-woordvoerder, gesê. “ ’n Vriend is ook na die plek waar hulle die oorledene laas gesien het, maar het teruggekeer na die kant toe nadat hy hom nie gewaar het nie. Die NSRI en polisieduikers het ook gesoek, maar sonder enige sukses, en die soektog is vroeg die Sondag hervat totdat sy liggaam gevind is.”. Die verdrinkings in Kleinmond en by die Palmiet-strandmeer was verlede jaar in die kollig nadat verskeie mense hul lewe daar verloor het.

Op 2 Oktober verlede jaar is die 17-jarige Marno-lee Oerson se lyk naby Fisherhaven gevind toe hy ook in Kleinmond verdrink het (“Lyk wat gevind is dalk dié van jong seun”, Hermanus Times, 16 Oktober 2022). Oerson het as ’n kringleier op ’n geestelike voorbereidingskamp in Kleinmond opgetree toe hy in die see op die hoofstrand verdwyn het nadat hy en nog drie tieners glo op ’n sandbank in die see gestaan het. Hy het glo sy balans verloor.

Terwyl die soektog na Oerson voortgesit is, het die NSRI op dieselfde dag nog ’n oproep gekry oor ’n voorval waar ’n sewejarige meisie saam met maats in die strandmeer gespeel en verdrink het.

Die meisie het saam met haar sussie (10) geswem en onder die water verdwyn. Die ouer sussie het daarin geslaag om uit die water te kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article