Hermanus
Times is oorval met oproepe van ontstoke inwoners oor die vliegtuig wat
Saterdagmiddag laag oor Hermanus gevlieg het en dit gelyk het of hy toertjies
in die lug doen. Nou het dit aan die lug gekom dat die vliegtuig wat gister (Woensdag
22 Februarie) ‘n noodlanding op die R43 tussen Pearly Beach en Gansbaai gedoen
het dieselfde vliegtuig is wat inwoners Saterdagmiddag briesend gehad het.
“Dit is onverantwoordelik
om so te vlieg, in ‘n stadium het dit vir my gelyk of die vlieënier in die moeilikheid is,” het ‘n inwoner wat saam
met haar kleinkind na die manewales gekyk het, gesê.
‘n Ander inwoner het vertel dat toe hy die vliegtuig hoor, het hy dadelik na buite gegaan, want die vliegtuig het baie laag oor die huise gevlieg.
Die vliegtuig, ‘n
Beechcraft Baron, wat aan die Test Flying Academy of South Africa (TFASA) in
Oudtshoorn behoort, het gister omstreeks 12:15 langs die R43 ‘n noodlanding
gedoen nadat “krag op al twee die enjins verloor is na opstyging by Pearly Beach,”
aldus die algemene bestuurder van TFASA, Willem Marais.
“Die vlieënier moes, nadat hy agtergekom het
dat krag in albei enjins verlore is, ‘n besluit neem en die vliegtuig het langs
die R43 te lande gekom en die bosse langs die pad het aan die brand geslaan. Gelukkig
is daar geen beserings aangemeld nie en na verdere ondersoek en mediese
ondersoek het Burgerlugvaart toestemming gegee dat die wrakstukke verwyder kan
word.”
Nooddienste was ook vinnig op dei toneel en ‘n stop-en-ry-stelsel is in plek gebring om die verkeer te reguleer.
Volgens Marais is TFASA
wel die eienaar van die vliegtuig, maar is die vliegtuig verlede week uitverhuur aan ‘n kliënt.





