Seeskilpaaie broei nou uit aan die noorde van KwaZulu-Natal en menige keer spoel hulle by ons strande uit.


Enigiemand wat al op ’n sloertoer gegaan het, weet dat jy niks wil mis nie. Dit is presies hoe seeskilpaaie is – nuuskierig, rustig en op ’n sloertoer in die oseaan, maar baie keer kan hul sloertoer verkeerd loop en dan is die kleintjies gestrand.

Dit is weer tyd vir seeskilpaaie om aan die noorde van KwaZulu-Natal uit te broei. Die natuur en ander omgewingsfaktore speel ’n rol in die oorlewing van die nuwelinge en baie keer spoel daar van die kleintjies langs die Overstrand se kus uit.

“Om die mense in te lig oor hoe hulle hierdie ‘nuwelinge’ kan bystaan, is die Twee Oseane-akwarium besig om sessies te hou rakende die ‘skilpadreis’. As deel van die ‘skilpadreis’, het die akwarium ook reddingsbokse by verskillende afsetpunte afgelewer om sodoende die skilpaaie wat verlore is na rehabilitasiesentrums te neem,” het Dean O’Neill, munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit gesê. Die akwarium gaan ook tussen 6-11 Maart die Overstrand besoek. Die span sal nie net die mense inlig oor wat om te doen met die gestrande skilpaaie nie, maar ook spesiale praatjies lewer oor seeskilpaaie. Op 9 Maart sal ’n spesiale inligtingsbord by Grotto-strand onthul word.

 “Sonder die inwoners, veldgidse en ander natuurliefhebbers kan hierdie program nie suksesvol wees nie,” het Tracy Whitehead, die Twee Oseane-akwarium se reddingskoördineerder, gesê.

Vir meer inligting of om gestrande skilpaaie aan te meld, kontak  083 300 1663 of 028 316 3724 of 028 312 2400.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article