Sekerheidsbeamptes het die afgelope tyd verskeie verdagtes aangekeer.


Beamptes van Hermanus Public Protection het gedurende Februarie gehelp om verskeie verdagtes vir oortredings soos die besit van vermeende gesteelde goedere, huisbraak en kwaadwillige saakbeskadiging aan te keer.

Marius Boshoff, Fidelity ADT se takbestuurder in Hermanus, berig dat twee verdagtes Maandag 27 Februarie omstreeks 22:00 vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere in hegtenis geneem is. HPP werk in vennootskap met Fidelity ADT.

“HPP se kamera-operateurs het gesien hoe die mans in Royalstraat af loop. Beamptes het die mans voorgekeer en verskeie items, onder meer ’n handboor, drukker en alkohol, is in hul besit gevind. “Die verdagtes kon nie verduidelik hoe die goedere in hul besit gekom het nie en is vir verdere ondersoek aan die polisie oorgegee,” aldus Boshoff.

Die op-en-wakker-CCTV-operateurs het ook gehelp om nog ’n verdagte aan te keer nadat hulle op die kameras gewaar het hoe ’n verdagte ’n venster van ’n gebou in die nywerheidsgebied breek. Die operateurs, sê Boshoff, het dadelik die HPP se spesiale reaksie-eenheid sowel as ADT reaksiebeamptes wat in die omgewing was, daarvan ingelig.

“Die verdagte is aangekeer vir kwaadwillige saakbeskadiging en aan die polisie oorhandig,” het Boshoff berig. Boshoff het berig dat nog ’n verdagte vir die besit van gesteelde goedere aangekeer is nadat CCTV-operateurs gesien het hoe hy kort na middernag (Maandag 13 Februarie) met ’n grassnyer in Stemmetstraat loop.

“Beamptes is Sondag 12 Februarie ingelig van ’n inbraak wat besig was om in Kerkstraat te gebeur. Beamptes van verskillende sekerheidsmaatskappye en wetstoepassingseenhede is na die toneel gestuur en kon daarin slaag om die verdagte buite die huis aan te keer. Hy is in hegtenis te neem en van huisbraak aangekla,” het Boshoff gesê. Volgens Boshoff is hy besonder trots op ’n HPP-beampte wat hom ontferm het oor ’n hawelose wat in gure weer skuiling gesoek het. “Hy het dadelik na ’n tweedehandse klerewinkel gegaan om vir die persoon warm klere te koop. Dieselfde beampte het ook tot die redding gekom van ’n vrou wat by Langbaai geval het. Sy het mediese behandeling van die hand gewys en die beampte het by haar gebly totdat haar man opgedaag het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article