Die mense van Hermanus sit nie stil nie – as dit nie die verskillende aktiwiteite is wat jou elke naweek en selfs deur die week besig hou nie, is dit die omgewing wat verander.
Ry jy in Hermanus, verwelkom ’n nuwe beeld voor Incanda jou. Dié beeld van die bekende beeldhouer van Hermanus, Willem Botha, trek dadelik jou aandag. Selfs nie eens die eendeweer kon Willem keer om dié beeld Vrydag voor die bekende meubelwinkel op te rig nie.
Willem noem die beeld “Tranquility”. “Die rustigheid wat jy ervaar as jy ná ’n dag vol uitdagings tuis kom, is die dieper boodskap om na binne te keer en nie jou antwoorde daar buite deur jou sensoriese persepsies te gaan soek nie,” verduidelik Willem.
Hy sê beeldhou is maar nog altyd deel van sy lewe. “Ek onthou as jong seun, nadat ons kleilat in die spruit gespeel het, het ek altyd klei huis toe geneem en beelde daarvan gemaak. Ek het die beeld dan in my ma se oond probeer bak, maar dan bars die hele ding oop dat die stoom so trek.”
Volgens hom het sy pa agtergekom hy het ’n passie vir beeldhoukuns, maar hy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. “Ek moes eers ’n tegniese kwalifikasie agter my naam kry voordat ek verder kon ‘klei speel’.”
Willem het in Pretoria grootgeword, met sy skoolliefde getrou en in 1998 besluit om met hul twee kinders na Hermanus te verhuis. “Ons wou wegkom van die gejaagdheid van die stad en wou soos kunstenaars lewe en ’n hoër lewensgehalte geniet. Jan Rabie en Marjorie Wallace se leefstyl het ’n groot invloed in ons besluit gehad. Ons kinders is ons ewig dankbaar dat hulle hier kon grootword, al woon albei nou oorsee.”
Willem se werk is nie onbekend in Hermanus nie en die bekende Walvistert-fontein is ook een van sy skeppings. “My voorlegging vir die Walvisstert-fontein is in 2005 ná ’n referendum deur die publiek as die gunsteling onder 10 voorleggings gekies. Die stert moes in brons gegiet gewees het, maar daar was nie geld nie. Ek is bly om te sien dat die Walvisstert-beeld ná amper 18 jaar darem nog sterk staan,” vertel hy.
Hy sê een van sy gunsteling-beeldhouers is Auguste Rodin, want volgens hom beeld dié kunstenaar se beelde emosies so doeltreffend uit. “Dit is wat ’n beeld moet doen – siel-tot-siel-kommunikasie wat emosie ontlok. Ek hou van die volgende gesegde van Walter Russel: An artist is at the end only a translator, translating the language of the Creator into the language of man, for the soul of man.”
Vir Willem is dit belangrik dat die son oor almal moet skyn en hy wens sy medekunstenaars alle sukses toe.
“My motto in die lewe is om jouself altyd in iemand anders se situasie te plaas voordat jy oordeel of sake doen.”. Willem se kunswerke kan in sy ateljee by die Hermanus-sakepark besigtig word.





