Die plase word nou in die omgewing geteiken.

Afriforum-buurtwag

Een man is ernstig beseer toe vier gewapende mans met klapmusse volgens berigte binne enkele ure op twee plase tussen Botrivier en Kleinmond toegeslaan het.

Lourens Theron van Afriforum-Alfa-buurtwag, wat een van die eerstes op die toneel was, berig dat die mans eerste by Hermanus Valley-plaas toegeslaan het. Daar het hulle volgens berigte Sondag omstreeks 22:00 ’n egpaar oorval.

“Die man wat redelik groot is, het die aanvallers probeer afweer en met hulle baklei. Hy het redelik ernstige beserings opgedoen toe hulle hom met groot klippe teen sy kop gegooi het,” het Theron verduidelik.

Die aanvallers het te voet op die vlug geslaan en na bewering daarna op ’n naburige plaas toegeslaan.

Volgens Theron is die twee plase ongeveer 3,15 km uitmekaar “soos die kraai vlieg”. Hy het bygevoeg die vermoede bestaan dat dieselfde groep wat in 2021 vir ’n aantal aanvalle op plase in die Stanford-omgewing verantwoordelik was, ook by die nuutste aanvalle betrokke is.

In een van dié voorvalle is ’n bejaarde paartjie op 12 Oktober 2021 op Lochinvar-plaas, geleë tussen Hermanus en Stanford, deur vier mans oorval, vasgebind, aangerand en van selfone, geld en juwele beroof.

Theron het kort ná hierdie voorval gehelp om een persoon aan te keer wat deur die polisie ingeneem is vir ondervraging. Daar is toe vasgestel dat die persoon van Namibië afkomstig is.

“Ek is oortuig dis dieselfde groep wat vir die naweek se aanvalle en die aanvalle in die Stanford-omgewing verantwoordelik was; die modus operandi is presies dieselfde,” het Theron verduidelik.

“Nes met die aanvalle in die Stanford-omgewing is die verdagtes vermoedelik deur ’n voertuig in die omgewing afgelaai en later weer opgelaai.”

Kapt. Fadila September, woordvoerder van die polisie in die Overberg-distrik, het bevestig dat twee sake van huisroof ondersoek word.

Volgens September het die aanvallers, gewapen met breekysters en vuurwapens, deur die agterdeur toegang tot die huis op Hermanus Valley gekry.

“Die huiseienaar het met die mans baklei en skote is afgevuur. Die onbekende aanvallers het gevlug. Die huiseienaar is beseer en is hospitaal toe geneem vir behandeling.”

Die aanval op Vogelvallei-plaas, sê September, het omstreeks 01:00 gebeur.

“Die slagoffer was alleen toe ’n onbekende persoon deur ’n venster die huis binnegekom het. Die verdagte het toe die deur vir nog ander oopgemaak.

“Die aanvallers was gewapen met messe en breekysters en het die slagoffer se hande en voete vasgebind.

“Hulle het haar persoonlike besittings, televisie, skootrekenaar en juwele geroof.”

Nadat die slagoffer daarin geslaag het om haarself te bevry, het sy omstreeks 06:00 alarm gemaak.

“Alle leidrade word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie,” het September gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article