Misdaadvoorkomingsoperasies vroeër die week het goeie vrugte afgewerp toe owerhede een verdagte vir die onwettige besit van ’n groot hoeveelheid kreef ter waarde van meer as R800 000 in hegtenis geneem het.
Daar is ook op vermoedelik gesteelde goedere sowel as ’n klein hoeveelheid perlemoen beslag gelê.
Lindile Ntsabo, Overstrand se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid van beskermingsdienste, berig dat verskeie eenhede van Overstrand-wetstoepassingseenheid Maandag 13 Maart in Hermanus en Gansbaai patrollies op die see en op land gedoen het as deel van hul misdaadvoorkomingsoperasies.
Die beamptes het beslag gelê op 33 eenhede heel perlemoen wat verlate in Sandbaai gevind was nadat hulle ondersoek ingestel het oor stropers wat na bewering in die area bedrywig was.
“Die span het ook in samewerking met die beamptes van die departement bosbou, visserye en omgewingsake ’n intelligensie-gedrewe operasie geloods nadat inligting ontvang was van ’n onwettige besending kreef,” het Ntsabo berig.
“Toe die beamptes die verdagte voertuig deursoek het, het hulle afgekom op 406 hele krewe sowel as 5 381 kreefsterte. Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van kreef en die vervoer van kreef sonder die nodige permit.”
Volgens Ntsbao is die geraamde waarde van die kreef ongeveer R896 800.
Wetstoepassingbeamptes het in ’n onverwante voorval Dinsdag 14 Maart ’n verdagte vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere in hegtenis geneem nadat ’n televisie, wat volgens berigte in Westcliff gesteel was, in sy besit gevind is.





