Dierewelsynorganisasies het nie net hul hande vol met gratis sterilisasie-dae en ander bewusmakingsveldtogte nie, maar ook met oorvol diereskuilings.

Een so ’n diereskuiling is Kleinmond Animal Welfare Society (Kaws). Kaws het twee “inwoners” wat dringend op soek is na blyplek – Prinses, wat al 18 maande by Kaws bly, en Luna, wat Kaws al ’n jaar lank haar tuiste noem. Albei is op soek na ’n eie huis.

Prinses is 18 maande gelede in ’n informele nedersetting gevind. Sy was nie net uitgehonger nie, maar ook duidelik verwaarloos. Ná baie liefde en omgee het Prinses van die lelike eendjie in die mooiste swaan verander.

Volgens Kaws is Prinses baie lief vir kinders, loop gehoorsaam aan ’n leiband en geniet dit om te swem. Sy is baie aktief en hou van die buitelug en sal goed by ’n aktiewe gesin aanpas.

Luna is in Desember by ’n besige pad gevind toe sy maar net drie maande oud was.

’n Wonderlike familie het haar twee weke nadat sy by Kaws aangekom het, aangeneem, maar weens omstandighede het die familie na ’n woonstel verhuis en kon hulle klein Luna nie saamneem nie en het haar terug in Kaws se sorg gelaat. . Enigiemand wat graag meer oor dié twee mooi honde wil uitvind, kan Kaws by 028 271 5004 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article