Grondgrype in die Grabouw-gebied het al baie hoofbrekens vir die owerhede en die inwoners veroorsaak.
Blikkiesdorp, die informele nedersetting buite Grabouw wat letterlik uit sy nate bars, en ander gebiede rondom Grabouw waar nuwe strukture elke dag opgerig word, soos Knoflokskraal, laat ’n mens na jou asem snak.
Sedert 2016 is berig oor die onwettige kragaansluitings by Blikkiesdorp, brande waartydens strukture verwoes is en selfs gebrekkige dienslewering, wat vele keer tot die onwettige sluiting van die N2 gelei het.
Die DA-raadslede van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) het hul misnoeë in Maart oor die toename van grondgrype in dié omgewing uitgespreek.
Volgens hulle het grondgrype in Maart in Rooidakke, Waterwese en Pineview-noord plaasgevind.
Hulle is ook bewus van die behuisingsprobleem wat die TWK in die gesig staar, maar meen grondgrype vind in hierdie stadium in gebiede plaas waar behuisingsprojekte beplan word.
Nou blyk dit dat die oop stuk grond tussen die Grabouw-winkelsentrum en die Hoërskool Grabouw se sportterrein, wat as Gypsy Queen bekend staan, in die visier van grondgrypers is.
Hermanus Times het op 2 Februarie 2022 oor grondgrype berig wat in Gypsy Queen gestuit is (“Grondgrypers gestuit”, Hermanus Times 2 Februarie 2022).
Die TWK het destyds gesê hy is besig om die stuk grond te koop en die burgemeester, Kallie Papier, het gesê hulle het planne om die stuk grond te beskerm.
Die grond is nou wel in die besit van die TWK en noodbehuising gaan opgerig word vir die brandslagoffers van Waterwese, wat verlede jaar op 1 Julie dakloos gelaat is (“Almal spring in”, Hermanus Times 6 Julie 2022).
Wilfrem Schrevian Evan Solomons-Johannes, direkteur van die munisipaliteit se gemeenskapsdienste, het gesê hulle het Saterdag 2 Julie 2022 dadelik 95 komberse aan die slagoffers en 44 pakke boumateriaal vir beginpakkette oorhandig. Gift of the Givers het ook verder komberse, kos en boumateriaal aan die slagoffers geskenk.
Die feit dat die grond vir noodbehuising gebruik gaan word en dat slagoffers omtrent ’n jaar ná die tragiese voorval noodbehuising gaan kry, alhoewel hulle noodpakkette gekry het, het baie vrae laat ontstaan.
Volgens inwoners van die buurt wat aan Gypsy Queen grens, is hulle ontstoke omdat hulle net hoor van die grond wat omtrent ’n jaar later vir noodbehuising gegee gaan word en dat geen openbaredeelnameproses oor die besluit gehou is nie. “Ons as belastingbetalers trek aan die kortste ent. Van wanneer af word ons nie in sulke besluite geken nie? Leef ons dan nie in ’n demokratiese era nie?” wou ’n belastingbetaler weet. Nog ’n inwoner voel die TWK het nie die regte prosedure gevolg nie en dit gaan die waarde van hul eiendom nadelig beïnvloed. Tydens wyksvergaderings van wyk 11 wat op 6 Maart gehou is, is gesê die noodbehuising gaan meer na die Grabouw-winkelsentrum geskuif word en gaan netjiese Nutec-huise behels. Die res van die grond gaan vir laeinkomstebehuising gebruik word.
Wat die inwoners verder vrees is dat die inwoners van die noodbehuisingsprojek dalk agterplaasbewoners daar kan laat bly en in ’n oogwink Gypsy Queen soos Blikkiesdorp laat lyk.
“Misdaad gaan ook toeneem,” het ’n inwoner gesê.
Gerugte doen ook die ronde dat wagte by Gypsy Queen geplaas is om die grond teen grondgrype te beskerm.. Hermanus Times het op 23 Maart reeds navrae rakende Gypsy Queen na die TWK gestuur oor die proses wat gevolg is om die grond vir noodbehuising te gebruik. Nadat geen terugvoering nog teen druktyd ontvang is nie, is die munisipaliteit weer genader oor terugvoering, maar weer eens sonder sukses.




