Ludewick Rabé tree ná meer as 38 jaar by die Poskantoor af.


By die kerk, in winkels en selfs rondom die braaivleisvuur het Ludewick Rabé altyd sy kliënte van die Poskantoor bygestaan, en dít is wat menige Hermanus-inwoner nou gaan mis.

Rabé tree nou ná meer as 38 jaar se diens by die Poskantoor af, en hy sien uit na dié nuwe fase in sy lewe. “Ek gaan vir ’n ruk nie aan werk dink nie, net rus en ’n bietjie aan myself werk,” vertel hy.

Sy loopbaan in die poskantoor het in die stad begin, waarna hy in 1994 na die possentrum in Goodwood oorgeplaas is.

In 2009 is hy na Hermanus verplaas. “Ek het my hele beroepslewe in die Poskantoor gewerk, waar ek onder andere die bestuurder van posaflewering was. Ek het al baie dinge in my lewe in die Poskantoor beleef, maar ek bly lojaal teen my werkgewer, want dit was ook van die beste tye in my lewe.”

’n Voorval wat hy seker nooit sal vergeet nie, is toe een van sy kliënte ’n pakkie kom haal het en die pakkie toe beskadig is . . . “ ’n Man het rooiwyn deur die pos bestel, maar die verskaffers het nooit op die boks aangedui dat die pakkie versigtig hanteer moet word nie. Die dag toe die kliënt die pakkie kom haal, het omtrent al die wyn uitgeloop. Hy was nie gelukkig nie en ons kantoor het na wyn gestink,” vertel hy.

Sy passie vir sy werk, kliënte en werkgewer ken geen gelyke nie en dit is nie snaaks dat sy kollegas, vriende en selfs sy kliënte sy lof besing nie. “Van my oudkollegas het altyd vir my kom hallo sê as hulle deur Hermanus na Franskraal of ander vakansiebestemmings reis. Ek is ook gereeld by die kerk, gesellighede en selfs in die supermark deur kliënte voorgekeer, wat wou weet waar hul pakkies is of net raad wou hê. Ek het glad nie omgegee as so iets met my gebeur nie; dit was vir my net ’n plesier om hulle by te staan. Vir my was dit nie my werk nie, maar my passie.”

Hy vertel verder dat niemand sy naam tot onlangs geken het nie. “Die meeste mense het my op my van genoem, en so ses jaar gelede het hulle my op my naam begin noem. Miskien is dit omdat dit so moeilik is om uit te spreek. Dit is van Duitse oorsprong.”

Net soos Rabé het sy vrou ook ’n passie vir dit wat sy doen. “Susan werk al 37 jaar in die staatshospitaal en ek skerts gereeld daaroor dat sy liewer vir verpleging en haar pasiënte is as vir my, want hulle kom altyd eerste. Ek gee nie om nie, want ek kan sien dit maak haar gelukkig,” vertel hy. Volgens hom gaan Susan nie nou aftree nie en gaan dit vir hom vreemd wees om die roete na die hospitaal toe te ry sonder om by die Poskantoor te stop. “Ek het my sleutel Vrydag (31 Maart) ingehandig. Dit was baie emosioneel en ek weet dit gaan vir my moeilik wees om my van die Poskantoor los te maak,” sê hy.

Wat hy die meeste gaan mis, is om kliënte te bedien en hulle behulpsaam te wees. “Om kliënte gelukkig te sien en om probleme op te los, was definitief een van my passies terwyl ek in die Poskantoor gewerk het,” vertel hy.

Rabé wil nie net op sy louere rus noudat hy afgetree is nie en wil graag oefen. Hy is op soek na ’n fiets om fiks en gesond te bly. Enigeen wat dalk ’n fiets wil verkoop, kan hom by 083 719 6831 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article