Die Hawston Skrik vir Niks-rugbyklub het sommer uit die staanspoor met die afskop van die seisoen gewys wat in hom steek toe al drie spanne van die klub hul teenstanders van Riviersonderend geklop het. Riviersonderend het telkemale deur Hawston se verdediging gebreek, maar kon net nie daarin slaag om dit in punte om te skep nie. Francois Geduld staan nader om Neville Pietersen te help keer dat Nathan Booysen van Rivvies nader aan sy span se doellyn kom. Wesley Spandiel is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het vier drieë gedruk en 20 van sy span se 55 punte aangeteken. Rivvies se A- en C-spanne het vroeë Paaseiers gekry – SVN se A-span het die besoekers 55-0 gelooi en die C-span het ook Rivvies met ’n ronde nul huis toe gestuur. Rivvies se tweede span was die helde van die dag toe hulle verseker het dat hulle 10 punte teenoor Hawston se 36 aangeteken het. Elders in die Overberg het Safcol die Botla Fire-span 40-10 in die stof laat byt, Kleinmond het Black Leaves van Gansbaai 32-16 gewen nadat Kleinmond ’n omstrede drie gedruk het, Bredasdorp Rangers het Grabouw 33-24 geklop en Caledon het Genadendal 32-19 kafgedraf.Foto: Bianca Du Plessis


Hawston jaag groentjies skrik op die lyf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article