Dit was ’n sprokiesverhaal vir Safcol-rugbyklub van Grabouw tydens die afgelope Saldanha-topagt-Paastoernooi.
Die appelboere van Grabouw, wat vanjaar se promotorskeuse was, het egter op die eerste aand reeds die liefling van die toernooi geword toe die span die verdedigende kampioen Roses van Wellington uitgeskakel het.
Die appelboere het egter, met die gasheer en Boland-kampioen wat wag in die volgende ronde, koelkop gebly en by tye die stadion stil gespeel in sy oorwinning van 33-26.
Safcol het in die eindstryd met ’n vinnige tempo begin en gou 10-0 voorgeloop.
Die appelboere, met die wind in hul gesig, het egter die span van Uitenhage te veel beweegruimte gegee en Progress het met twee verdoelde drieë geantwoord.
Safcol het met sy derde onverdoelde drie weer die voortou geneem, maar met ’n suksesvolle strafskop deur Progress het die spanne met 15-17 in Progress se guns gaan water drink.
Die besoekers uit die Oos-Kaap het kort na rustyd hul voorsprong vergroot met nog ’n strafdoel. Saffies het daarna met die wind van agter gereeld die verdediging van Progress op die proef gestel, maar met ’n gebrek aan afronding kon hulle dit nie in punte omskep nie.
Met 10 minute se speeltyd oor en agt punte agter op die telbord, het die appelboere se wil om te wen na vore gekom en met die hordes ondersteuners wat hulle aangemoedig het, het die span ’n verdoelde drie behaal en ook ’n strafdoel oorgesit.
Saffies moes daarna vir al wat hy werd is verdedig en het koelkop Progress op die agtervoet gehou. Die span wat die buiteperd was, het Progress 28-25 geklop om sodoende die eerste promotorskeuse te word wat die titel al gewen het.





