Die uitstallers van die Hermanus Country Market kon nie Saterdag uitstal nie.


Dit was ’n droewige naweek vir uit­stal­lers van die Hermanus Country Market (HCM) en inwoners van die Overberg toe die HCM glo op die nippertjie gehoor het hulle kan nie meer voortgaan om handel te dryf nie.

Op Facebook en WhatsApp het dit gegons oor die “onetiese manier” hoe die Overstrand-munisipaliteit (OM) glo sake doen. “Van die uitstallers het reeds kos voorberei vir Saterdag, nou moet hulle ’n dag voor die tyd hoor hulle mag nie hul produkte verkoop nie,” het ’n WhatsApp-gebruiker gesê.

Vroeg in Februarie het 625 belasting­betalers na die munisipaliteit opgeruk om hul misnoeë uit te spreek oor die probleme en moontlike sluiting van die mark (Hermanus Times, 8 Februarie 2023, “Plan om gewilde HCM te red”).

Op dié vergadering het die OM-burgemeester, dr. Annelie Rabie, dit duidelik gemaak dat sy nie die HCM wil sluit nie en dat die OM en die HCM kan hande vat om daarvan ’n sukses te maak.

Daar is ook gesê die OM en HCM moet ná drie maande weer bymekaar kom om die situasie te bespreek. Die rede vir die sluiting van HCM was onder meer dat hulle onwettig handel dryf op die perseel van die Hermanus-sportklub aangesien hul strukture nie aan die munisipale regu­lasies voldoen nie, daar geen brandveilig­heid­serti­fikate is nie, daar geen ontrui­mings­plan is nie en dit ook ’n kopseer vir versekering is.

Die OM het dit ook duidelik gestel dat hy geen huurooreenkoms met die HCM het nie, maar net met die Hermanus-sportklub en dat die ooreenkoms tussen die OM en die Hermanus-sportklub is dat daar blykbaar sportgeriewe en ’n rekreasiesentrum op die grond aangebring moet word. Die huuroor­eenkoms tussen die OM en Hermanus-sportklub is geldig vir 45 jaar.

Maar wat die uitstallers en die eie­naars van die HCM onthuts laat, is die feit dat die munisipaliteit glo nie by sy tydlyn gehou het soos ooreengekom is nie.

“Ons het ’n brief van Anja le Roux van die munisipaliteit gekry wat gelui het dat ons laaste Saterdag wat ons kan handel dryf die Saterdag van die Paasnaweek was,” het Michael Bayer, eienaar van HCM, Saterdag op ’n openbare vergadering gesê.

“Ons was dadelik op ons hoede en op ’n vergadering met die burgemeester en die munisipale bestuurder het ons aan hulle dokumenta­sie deurgegee van ons planne en ’n brief vir terugvoering. Volgens my was dit ’n suksesvolle vergadering en wag ons steeds vir terugvoering van die munisipaliteit.”

Bayer sê ook hulle doen alles in hul vermoë om by die tydlyn te hou en die probleme wat hulle het op te los. “Nie net het ons konsultante aangestel om ons met die probleme te help nie, maar ons het ook met die Hermanus-sport­klub onderhandel oor ’n huurooreen­koms en hulle kommentaar was dat die munisi­paliteit hulle aangesê het om nie die huurkontrak met ons aan te gaan nie.”

Volgens die OM het hulle dit duidelik op die vergadering wat op 6 Februarie gehou is, gestel dat wette nie verander kan word nie en dat hulle moet hande vat sodat die HCM met sy werksaam­hede kan voortgaan. Daar is ook vol­gens die persverklaring ’n komitee op die been gebring wat bestaan uit lede van die OM, HCM en die Hermanus-sportklub. Die komitee het al vier vergaderings gehou om die toekoms van die HCM te verseker.

“Twee en ’n half maande later is daar steeds geen motiverende aansoek ingedien oor die onderverhuring van die perseel nie asook nie planne van die strukture en die tent sodat dit aan die bouregulasies voldoen nie. Verder word daar sonder die nodige lisensie alkohol op die perseel verkoop,” het OM se persverklaring gelui.

“Dit is ook duidelik dat die HCM nie wil saamwerk nie. Daar is ooreengekom dat daar 60 uitstallers kan wees, maar die HCM het uit ongeveer 120 uitstallers bestaan. Dit is ook met skok dat die OM op sosiale media verneem het dat die HCM op 14 April gehoor het hulle kan nie verder handel dryf nie.

“Daar is ’n brief op 30 Maart uitgereik oor die stand van sake en nie soos die HCM dit wil te kenne gee nie,” het die persverklaring gelui.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article