“Dit is nou ’n behoorlike toutrekkery tussen die Hermanus Country Market (HCM) en die Overstrand-munisipaliteit. Ek wens net alles kan terug na normaal gaan, want dit was een van my gunsteling-markte om te besoek.”

Dít is die woorde van ’n Hermanus-inwoner nadat sy op Facebook gelees het van die opvolgvergadering tussen die munisipaliteit en die HCM.

Dié opvolgvergadering is op 3 Mei in die munisipale ouditorium gehou nadat die HCM toestemming van die munisipaliteit verkry het om van die langnaweek aan die begin van Mei tot die einde van Mei steeds handel te dryf.

“Hierdie besluit is geneem met die inagneming van die goeie gees wat die HCM die afgelope week getoon het nadat hulle die strukture op die munisipale grond aangrensend aan Generation School verwyder en met onderhandelinge begin het om die aansoek van die onderverhuring van die perseel in te dien,” het dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, gesê.

Die HCM het op sy Facebook-blad gesê die vergadering het gekom en gegaan en hulle het toestemming om tot aan die einde van Mei handel te dryf en hulle is besig met onderhandelinge oor die verlenging van die besluit.

“Die slegte nuus is dat sekere vereistes nagekom moet word voordat enige besluite geneem kan word,” het die inskrywing gelui.

Volgens hulle is twee moontlike gebiede wat die mark kan gebruik, uitgewys. Die eerste is die bestaande perseel, maar hersonering moet eers plaasvind voordat dit gebruik kan word.

“Die tweede perseel is reeds hersoneer, maar restourasie sal eers gedoen moet word, en daarvoor het ons beleggers nodig,” het hulle gesê.

“Ons wil dit net weer onder almal se aandag bring dat 25% van die besoekers aan die Overberg handwerk- en kosmarkte besoek en ons is trots oor ons bydrae tot die ekonomiese inspuiting in ons dorp.

“Baie dankie aan ons lojale besoekers, die stalletjie-eienaars en almal wat ons so gereeld ondersteun.

Ons het nog nie die eindpunt gehaal nie, maar met almal se hulp sal dié reis die moeite werd wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article