Van die geheime van ’n suksesvolle onderneming is om te netwerk en om nooit te oud te wees om te leer nie.
Dit is ook wat ’n klomp sakemanne- en -vroue van Hermanus gedoen het toe hulle Donderdagaand by The Wild-restaurant saamgekom het om na ’n praatjie deur dr. Roelof Botha te luister.
Selfs die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, wat tydens die geleentheid in die Overberg was, het die aand bygewoon. Dié aand van netwerk en “goeie raad” is deur Optimum Financial Group van Hermanus aangebied. Die kantoorhoof en finansiële raadgewer van Optimum Financial Group in Hermanus, Marita Geldenhuys, het die aand vir die sakegemeenskap van Hermanus gereël.
“Dit was ’n ekonomiese konferensie vir die sakegemeenskap van Hermanus. Ons het gereed gemaak vir 50 gaste, maar toe daag omtrent 64 gaste op om die spesiale aand saam met ons te deel,” het Geldenhuys gesê.
Botha, wat al meer as 40 jaar ervaring in die Suid-Afrikaanse ekonomie het en selfs vir die Staatskas gewerk het, is al ’n bekende gesig in Hermanus en is ook die ekonoom van Optimum Financial Group. Nie net was hy al die Ekonoom van die jaar nie, maar sy voorspellings oor die ekonomie is gewoonlik in die kol. “Dr. Botha staan bekend vir sy positiewe uitkyk oor die ekonomie van Suid-Afrika en verduidelik die huidige ekonomiese situasie só dat almal dit kan verstaan,” het Louwrens Smith van Optimum gesê. Donderdagaand se praatjie het gehandel oor die ekonomiese oorsig van nie net Suid-Afrika nie, maar ook die wêreld. . Vir nog inligting oor Optimum Financial Group, bel Geldenhuys by 061 389 0416.





