Dit was maar ‘n moeilike tyd vir die Willemse tydens die hofsitting.


Die feit dat sy suster Juanicka “Nita” Willemse se moordenaar skuld beken het en 25 jaar tronkstraf opgelê is, is vir Elroy Willemse skrale troos.

“Hoekom het hy nou, ná amper drie jaar van sê hy is onskuldig, skielik besluit om skuldig te pleit? Ek wou hê daar moes ’n verhoor wees sodat ons agter die kap van die byl van haar moord kon kom,” sê Elroy.

Die vonnis, voel hy, is ook heeltemal onvoldoende.

“Wat as hy ná ’n paar jaar weens goeie gedrag in die tronk vrygelaat word? Dan is haar kinders in gevaar, want hy het al baie gedreig om hulle seer te maak. Ek en my ma kan nie van die werk af wegbly om seker te maak hulle is veilig nie, want ons werk hard om Nita se kinders te versorg. Hy kan later uitkom en weer sy ma sien, maar Nita se kinders gaan nooit weer hul ma sien nie.”

Juanicka se kinders – Hope (13), Caleb (8) en Cayla (5), wat nie eens twee jaar oud was toe haar pa haar ma vermoor het nie – is in Elroy en sy ma se sorg. Net Cayla is uit Juanicka en Witbooi se verhouding gebore.

Hoewel haar dogter se moordenaar skuld beken het en gevonnis is, sê Elizabeth Witbooi, het die werklikheid van haar kind se dood nog nie ingesink nie. “Vir my voel dit asof sy net gaan werk het en weer gaan terugkom,” vertel sy.

Die dag van die vonnisverrigtinge in die Wes-Kaapse hooggeregshof, sê sy, was baie dramaties en traumaties.

“Ek het net gehuil toe hy die judge vertel hoe hy haar doodgemaak het. Terwyl hy gepraat het, het hy my dopgehou en gelag,” vertel sy.

Sy bravade, sê Elizabeth, het soos mis voor die son verdwyn toe hy gevonnis is.

“Hy het ’n bohaai opgeskop en toe die beamptes hom wegvat, het hy teen die banke geskop en getrap. Ek het gedink hy wil my bespring en seermaak.

“Ek het gevoel ek kan hom choke, maar dit sal nooit my kind terugbring nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article