Hy was ’n beminde in die Kaap Agulhas-munisipale gebied en het baie mense se lewe met sy kenmerkende glimlag aangeraak.

Patrick Olivier, of Oom Pat, soos hy vir baie bekend was, se dood was ’n skok vir menige.

“Dit is met leedwese dat ons verneem het van Patrick Olivier se afsterwe. Baie sterkte aan die familie en vriende; julle is in ons gebede in hierdie tyd van rou. Oom Pat was in diens van die raad van 1 Julie 2000 tot 29 April 2016,” het die Kaap Agulhas-munisipaliteit op sy Facebookblad geskryf.

Oom Pat het nie net die grafte van die Bredasdorp-begraafplaas skoongehou nie, maar ook die sportveld van die rugby-, krieket- en sokkerklubs vir al sewe dorpe in die Kaap Agulhas-munisipaliteit uitgemerk.

Niks was vir Oom Pat te veel nie en hy het sonder vergoeding ook na-ure uitgehelp waar hy kon en altyd reggestaan as iemand hom nodig het.

Sy kollegas en vriende onthou hom as iemand wat nie net trots was op sy werk nie, maar ook op homself.

“Oom Pat was tydens provinsiale rugbywedstryde by die Glaskasteel altyd in sy Springbok-das geklee, wat hy met trots gedra het,” onthou Doreen Oncke.

Delphine Hopley het die volgende oor Olivier gesê: “As werknemer van die KAM was hy sy gewig in goud werd. Hy was altyd bereid om te help en het sy werk met ywer uitgevoer – altyd netjies geklee; tot daai denimbroek was in die naat gestryk. Sosiale aangeleenthede was nie ’n kuier sonder Oom Pat nie, en later die aand vermaak hy ons met daai goue stem van hom terwyl Eli Murtz die kitaar speel.” . Pat Olivier is op 6 Mei in Bredasdorp begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article