Dis uniek, iets spesiaal en gaan binnekort in Hermanus te sien wees.
“The Human Library” is ’n wêreldwye konsep wat ’n paar jaar gelede in Skandinawië ontstaan het. Die konsep is op humanitêre beginsels gegrond – met die doel om ander beter te verstaan. Die praktiese toepassing is eenvoudig – in plaas van ’n boek uitneem, neem jy ’n mens uit. Die mens (dikwels iemand wat baie omstrede of gemarginaliseerd is) vertel jou as toehoorder sy of haar storie . . . eerlik, kaalvuis. In die produksie Van die rak af, ontmoet ons sulke individue – werklik, histories, fiktief, komies, tragies, satiries en tragi-komies.
Elkeen van die karakters verbeeld en vertel hul unieke storie.Maar daar is ’n interaktiewe element: Voor die aanvang van die vertoning ontvang die gehoor ’n “stembriefie” met kriptiese leidrade. Dan kies die gehoor self watter “mense” hulle wil uitneem vir dié spesifieke opvoering.Hermanus-inwoners en Kalfiefees-liefhebbers het nou die geleentheid om so ’n spesiale opvoering te beleef wanneer die Hermanus Kalfiefees-programboekie van 2023 op 3 Junie bekendgestel gaan word.
Die gehoor kan danksy Lizz Meiring in die produksie Van die Rak af uitsien na iets buitengewoons. Dié vertoning vind op 3 Junie om 19:00 in die munisipale ouditorium plaas en kaartjies is by Computicket te koop.



