Die drie sokkerspelers van Hawston hoop om deur talentsoekers raakgesien te word as hulle na Swede reis.

Bianca Du Plessis

Talent, harde werk en deursettingsvermoë is nie altyd genoeg om jou drome te laat waar word nie. Daarvoor is gulde geleenthede en die regte mense wat jou potensiaal kan raaksien en help ontwikkel, ook nodig.

Al hierdie faktore het onlangs vir Cleo Claasen, Giano Viret en Q-Win Poole van die Overstrand in plek geval nadat hulle aan sokkerproewe, wat in Kaapstad deur die BT Football Recruitment Agency gehou is, deelgeneem het.

Hoewel die drie oortuig was dat hulle hul bes gedoen het en hulle ingelig was dat hulle die kortlys gehaal het, was dit nog ’n paar stresvolle dae voordat hulle ingelig is dat hulle wel gekies is om aan die 10 dae lange toer van 10-20 Januarie 2024 in Swede deel te neem.

Daar sal hulle vyf wedstryde teen spanne van professionele klubs en sokker-akademies speel. Talentsoekers en afrigters van verskeie professionele sokkerklubs sal die wedstryde op soek na nuwe talent bywoon.

Cleo en Q-Win (17) wat vir Hawston FC sokker speel, en Giano (20), wat vir Real Attackers uitdraf, skryf hierdie geleentheid, wat net een keer in ’n leeftyd op jou pad kom, toe aan hul afrigter, Grant Gillion, se toewyding en bereidwilligheid om hulle na die proewe te neem.

Volgens Gillion het hy Giano ten spyte daarvan dat hy vir ’n ander klub speel, na die proewe gevat “omdat Giano in sokker uitblink”.

“Dit het nie gegaan om net Hawston FC en ons eie spelers te bevoordeel nie; dit was om die spelers bloot te stel aan ’n geleentheid wat die potensiaal het om hul lewens te verander,” sê Gillion.

Q-Win, die jongste van die drie, sê hy is passievol oor sokker omdat dit hom van sy probleme laat vergeet.

“Die gees is onbeskryflik en almal is soos broers op die veld. Die coaches is vaderfigure wat ons motiveer,” sê die belowende jong doelskieter, wat ook as vleueluitblink.

Die toer na Swede, sê hy, sal hom een tree nader bring aan sy droom om ’n professionele sokkerspeler te word.

Giano, wat sedert agtjarige ouderdom sokker speel en volgens Gillion in enige posisie uitblink, sê die geleentheid om voor Europese talentsoekers sokker te speel, is ’n droom wat waar geword het – nie net vir hom nie, maar ook vir sy pa, Anthony Lebron, wat in sy jeug in sokker uitgeblink het, maar nooit soortgelyke geleenthede gehad het nie.

“Toe ek hoor ons al drie gaan, was ek baie opgewonde. Al word net een van ons gekies – al is dit nie ek nie – sal ek baie bly wees. Ek het al opgegee op my droom en al my sokkergoed weggee, maar toe begin ek net weer speel.”

Cleo (23) het uit frustrasie oor die tekort aan geleenthede om in sy gunstelingsportsoort uit te styg, dieselfde gedoen. Maar nes Giano kon hy ook nie lank van die sokkerveld af wegbly nie

Oor die toer na Swede, sê hy: “Die harde werk begin nou. Ek glo ons al drie kan dit maak. Ons het nie ’n ander keuse nie – ons moet hierdie geleentheid gebruik sodat ons eendag in die gemeenskap kan terugploeg.”

Elveno Muller, die president van Hawston FC, is ewe vol vertroue dat die drie suksesvol sal wees en kontrakte met oorsese sokkerklubs kan losslaan.

Die klub werk tans onverpoos om broodnodige geld vir die spelers in te samel. Die koste van die toer beloop R45 000 per speler. Dit sluit nie die kostes van hul paspoorte, sakgeld en ander persoonlike uitgawes in nie. Elke speler moet teen 1 Julie ’n deposito van R5 500 betaal.

Die spelers het elkeen ’n lootjie wat ondersteuners die geleentheid bied om ’n halwe skaap vir net R50 te wen.

Die klub doen ’n dringende beroep op die gemeenskap van die Overstrand om Giano, Cleo en Q-Win te help om hul droom te bereik deur geld of items wat uitgeloot kan word om geld in te samel, te skenk. Bel Grant Gillion by 079 719 1844 of besoek Hawston FC se Facebook-blad vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article