Ouma Miempie Wessels het op haar 91ste verjaardag agterop ‘n motorfiets gery.


Deftig uitgevat het Ouma Miempie Wessels Dinsdag 6 Junie die koppe by Huis Lettie Theron in Hermanus laat draai toe sy op haar 91 ste verjaardag op ’n brullende Harley Davidson deur die grond van dié aftree-oord gery het.

Ouma Miempie vertel: “Ons het ’n nuwe nutsman, Willem, by Huis Lettie Theron, en sy motorfiets lyk altyd vir my so mooi – alles wat kan blink, blink op daardie ryding. Ek het vir hom gevra of hy my eendag ’n lift op sy motorfiets kan gee en het selfs met die bestuur gereël dat dit nie met sy werk moet inmeng nie. Ek het op my 91ste verjaardag brullend agterop die motorfiets deur die terrein van Huis Lettie Theron gery. Dit was seker een van die hoogtepunte in my lewe. My seun het my afgeraai en gesê ek moet ’n valhelm dra, maar gelukkig was dit net in die aftree-oord se terrein en kon ek dit doen.”

Gesels ’n mens met Ouma Miempie, besef jy gou sy is ’n groot bok vir sports. Haar hande staan ook vir niks verkeerd nie en sy is gereeld besig met blomme in die aftreeoord.

As jong meisie is sy met ’n boer van die Caledon-omgewing getroud en was haar lewe lank ’n tuisteskepper. “Ek is ’n boeremeisie wat met ’n boer getroud was en is my hele lewe lank ’n tuisteskepper. Ek het gebak en brou, gehekel en brei en is ook baie lief vir blommerangskikking. Ons het tussen Riviersonderend en Caledon geboer en ek het ook op jong ouderdom aan die Vrouelandbouvereniging (VLV) behoort waar ons met ons hande- en bakwerk kon spog,” vertel sy.

Sy is steeds lid van die VLV-Jongensklip en is trots om te sê dat sy ’n erelid van dié vereniging is. “Die VLV-Jongensklip is in 1954 gestig en ek is al lid van dié vereniging van 1955 af,” vertel sy trots. “Die VLV is nie net ’n samekoms van vroue nie, maar ook ’n goeie plek waar jy meer oor bak- en handewerk kan leer. Daar is altyd iets nuuts wat jy by die vergaderings kan leer.”

Ouma Miempie bly al 37 jaar in Hermanus, maar sal altyd in haar hart ’n boervrou bly. “Ek dink dis een van die redes waarom ek op 91 nog so gesond is. Ek is nederig dankbaar dat ek my 91 ste verjaardag kon vier en dit is net uit genade dat ek dit kon bereik,” vertel sy.

Volgens haar is haar geheim van ’n gesonde lewe om dankbaar te leef en om besig te bly. “Ledigheid is die duiwel se oorkussing; ek is dankbaar dat ek steeds met my hande kan werk. Dit is net uit genade dat ek vandag nog gesond kan wees. As jou gesondheid dit toelaat, bly besig – dit lei jou gedagtes af en bly altyd positief,” vertel sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article