Gift of the Givers het sy hande in die Wes-Kaap ná die jongste oorstromings behoorlik vol gehad.
Dié organisasie sonder winsbejag het ook tot die redding van Grabouw- en Villiersdorp-inwoners gekom nadat hulle byna alles verloor het. Van die slagoffers word tydelik in die Thusong-saal gehuisves totdat hulle weer op hul eie voete kan staan.
Inwoners het Donderdag met groot opgewondenheid op die vragmotor van Gift of the Givers gewag. “Hulle is hier! Hulle is hier!” het inwoners uitgeroep toe hulle die vragmotor gewaar.
Gift of the Givers het kos, komberse, matrasse en ander artikels aan die slagoffers oorhandig.
Volgens een van die Gift of the Givers-lede is dit ’n hartseergesig aangesien van die slagoffers met hul besoek steeds hul nat klere aangehad het. “Ons kon sien hoe koud en weerloos hulle gelyk het toe ons kos uitgedeel het,” het sy gesê.





