Nie eens die koue, nat weer kon die jong opkomende rugbyspelers verlede week van ’n rugbykliniek, wat deur Riviersonderend-rugbyklub aangebied is, weghou nie.


Hulle is dalk groentjies in die Grootuitdaag-reeks en gaan alles in hul vermoë doen om ’n indruk te maak, maar intussen werk die Riviersonderend-rugbyklub nie net hard aan sy spelers nie, maar ploeg hy ook terug in die gemeenskap.

Die klub (RSE) was verlede week die gasheer van ’n drie dae lange afrigtingskliniek wat deel van sy jeuguitreikprogram was.

Volgens Heinrich Sauls, die tussentydse voorsitter van die rugbyklub, is dit die derde projek wat die klub aanbied om sport in die dorp ’n hupstoot te gee. “Ons het vroeër in die jaar die geleentheid gehad om ’n afrigtingskliniek vir die klub en die kinders saam met die Boland-Kavaliers aan te bied, en nou het ons die afrigters van Maties gekry om ons by te staan,” het Sauls gesê.

Die twee oud- provinsiale spelers Eddie Fredericks en Craig Barry het Maandag rugbyspelers van Bloemenhof Primêr, die Hoërskool Riviersonderend en Riviersonderend Primêr touwys gemaak, en die aand het die RSE-rugbyspelers die geleent­heid gehad om saam met hulle te oefen.

Dan het die voormalige Springbok- en Cheetah-speler Kabamba Floors, wat tans die hoofafrigter van Maties se rugbyspan is, ook tegnieke met die jongspan en die senior spelers en ook afrigtingswenke met die onderskeie afrigters gedeel. Op ’n vraag oor hoe die klubrugby in die Overberg is, het Floors geantwoord: “Baie werk moet nog gedoen word, maar die spanne vaar goed en het baie belowende spelers wat hul merk kan maak. Die klubs kan met harde werk net van krag tot krag gaan.”

Volgens Sauls was dié afrigtingskliniek baie suksesvol en ongeveer 60 leerders en 25 klubspelers het die kliniek bygewoon. “Dit was ’n groot sukses en van die hoogtepunte was die drills wat aangebied is. Dit is op ’n professionele vlak aangebied en die spelers het dit baie geniet. Die ander hoogte­punt was Kabamba Floors – nie net het hy almal gemotiveer nie, maar sy interaktiewe manier van afrigting met die jeug en die klubspelers was next level. Dit is iets wat hulle nie maklik sal vergeet nie en ’n hoogtepunt in baie spelers se rugbyloopbaan,” het Sauls gesê.

Hy wil ook enigeen aanmoedig wat dalk deel van RSE wil wees om hom te kontak. “Ons benodig borge veral om die speler van die wedstryd te borg,” het hy gesê.

Die RSE-rugbyklub wil graag die volgende instansies en mense bedank: Die hoofborg, Caledon Casino en Spa, vir die verblyf en etes, die Universiteit Stellenbosch en sy afrigters, Kabamba Floors, Eddie, Craig en Matimu, die Theewaters­kloof-munisipaliteit, CDW Maretta Lottering vir die gebruik van haar kantoor, en die Riviersonderend-rugbyklub se bestuur en spelers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article