Neil Sandilands (Bart van 7de Laan) het nie net na Onrus verhuis nie, maar gaan ook sy wintertoer in die De Wet-saal afskop.


Sy talent ken geen perke nie. Ons het hom leer ken as Bart in 7 de Laan, toe sprei hy sy vlerke en gaan na Amerika om die Hollywood-droom te leef en herontdek weer sy musiektalent.

As jy na sy reis in die vermaaklikheidswêreld kyk, besef ’n mens vinnig alles waaraan Niel Sandilands raak, verander in goud.

Maar dit is sy laaste rol as Freddy Greyling in Desert Rose wat jou laat besef hierdie akteur met sy unieke sangstem hoef nie vir een van Hollywood se akteurs terug te staan nie.

Neil is baie opgewonde om Onrus sy nuwe “huis” te noem en het aan Hermanus Times vertel hoe hy besluit het om hom in die Overberg te kom vestig.

“Tydens Covid het ek my terug in Afrika bevind en ek was in die eiendomsmark geïnteresseerd. Ek het ’n bietjie rondgery en besigtigings in en om die Overstrand en Overberg gedoen. Onrus het heelwat voordele ingehou vir wat ek in gedagte gehad het. Eerstens, die betrokke woning het nogal met my gesels, maar die dorpie self het hierdie hibride-tipe gevoel in die opsig dat dit klein genoeg is om die burgerlikheid van ’n klein dorpie te behou, maar terselfdertyd ook redelik anoniem is, siende heelwat mense bloot deurbeweeg.

“Die infrastruktuur werk oor die algemeen goed. Die nodige dienste is byderhand. Ek is minder as twee uur van Kaapstad se internasionale lughawe af. Die natuurskoon, die stilte, die ou halogeen-straatligte . . . Intussen het ek ook uitsonderlike mense ontmoet; so all good,het hy gesê.

Dis die eerste keer in ’n lang tyd dat hy min of meer van een sentrale plek af funksioneer aangesien hy die afgelope drie jaar meestal in die buiteland as akteur gewerk het. Volgens hom sien hy daarna uit om nou, as die tyd dit toelaat, rustig by sy huis te wees. “Die toer en die Afrikaanse musiek-aanbod is werklik ’n liefde. Indien ek tuis is, wat partykeer maar min is, geniet ek dit veral om in die tuin te werk. Ek hoop om ’n voetval in die buiteland te behou, maar ook om stigtende werk in Suid-Afrika te doen – hopelik in hierdie taal. Ek het nog heelwat estetiese vorme wat ek sou wou aanpak, maar dis ook vir my belangrik om sekere seisoene in ’n lewe te erken. Ek hou daarvan om burgerlik te wees . . . ’n goeie buurman, en vir die gemeenskap daar te wees. Dis hoekom ek die toer hier begin. Dis ’n manier om uit te reik. Alles is vir my belewenisse wat ek sou kon omvorm in estetika. Miskien gebeur die novelle hier in Onrus. Dis hoeka die plek van Jan Rabie en Uys Krige.”

Neil se voete is plat op die aarde en, soos hy sê, kyk hy nie eintlik op na enigiemand nie, “want jy weet, almal het maar voete van klei . . .

“Ek het geweldige waardering vir en vind aanklank met die algemene mense op straat, wat steeds in staat is tot die rein gebaar. Ek sien so baie van diesulkes. Mense wat alles daarvoor vyl het, onbaatsugtig bly, om desondanks die uitdagings van die ‘normale gang van sake’ hier in Suid-Afrika skouer aan die wiel te sit en te help bou; onbesoedeld te bly. Heroes het ek maar min van. Hulle sal waarskynlik tel onder musici en letterkundiges – Dylan en Dostoevsky.”

Oor sy persoonlike lewe swyg Niel en vertel dat hy gewoond is aan die atomiese, anomaliese bestaan. “Ek woon op my eie en die 30-sekonde-reël bly van toepassing. Gegewe die aard van my werk – ek is ’n projekwerker – is mobiliteit belangrik. Ek moet binne ’n oogwink ’n bepaling kan maak soos om vir nege maande in Nieu-Seeland of Kanada te gaan werk. Dit maak ongelukkig troeteldiere ’n onmoontlike oorweging.”

Hy vertel dat hy wel voëlvoerders aangeskaf het en sorg mooi vir die voëls in die omgewing. “Hier was al ’n uil en ’n kaalwangvalk,” vertel hy trots.

Oor sy liefde swyg hy, maar wie weet: “Ek sien myself nie as ’n askeet of kluisenaar nie. Hier is ruimte vir verdieping en verbreding van menslike verhoudings. Ek’s net ’n besige tipe. Dit sal hare op die tande kos. Maybe is ek reeds besig met oorwegings van dié aard . . .”. Neil skop sy wintertoer op 1 Julie in sy nuwe tuisdorp Onrus in die De Wet-saal af.

Die Neil Sandilands Gedoente bring instrumente, blikke, baarde en sakke vol truuks na Hermanus. Die ander skerpskutter-musikante op die wavrag is die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert, die kitaarspeler (van OppieStoep-faam), Frank Freeman en hun Ingilsman (darem met Ierse bloed), Ronan Skillen, op perkussie. Hy slaan enige ding van ’n crankshaft tot ’n Indiese tabla en als tussenin. Vir besprekings besoek https://qkt.io/neilsandilands-onrus

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article