Die Overberg het definitief nie ’n tekort aan staaltjies nie – van walvis-stories tot kuiers op plase en nog meer.
Een so ’n storie is “Vissers en skuit ry perd op walvis se rug”, wat op 12 Mei 1960 in Die Burger verskyn het.
Dit lui so: “ ’n Spelerige walvis het mnr. W.H. Steinberg en twee kleurlinge, Reginald en Frits, gister groot skrik op die lyf gejaag toe dit die skuitjie waarmee hulle visgevang het, uit die water opgelig het. Die skuitjie was ’n paar oomblikke op die walvis se rug voordat dit afgegly en in die see teruggeplons het.
“Mnr. Steinberg, wat vir plesier visvang, was op soek na snoek, wat die laaste paar dae hier goed byt. Hy en die twee kleurlinge was in ’n skuit van twaalf voet met ’n buiteboordmasjien.
“Hy vertel dat die water troebel, maar kalm was en dat hulle doodgerus in die lekker sonskyn rondgevaar het om na tekens van snoek te soek. Skielik was hulle nie langer in die see nie, maar met skuit en al ’n paar voet in die lug bo die water. ’n Paar oomblikke het die skuit bo die geweldige dierasie ‘gehang’ en toe stadig water toe gegly. Toe eers het die drie mans besef dat hulle op die rug van ’n walvis was.
“Die skuit het skeef van die walvis se rug afgegly en heelwat water geskep.”
Al drie moes styf vasklou om nie uit te val nie. Die rug van die walvis, wat langs die skuit geswem het, was toe nog sowat drie voet bo die water. ’n Rukkie later het hy weggeduik en hulle het hom nie weer gesien nie.
“Mnr. Steinberg vertel dat toe hulle op die walvis se rug te lande kom, hy ’n harde gebrul gehoor het, maar dit het alles so gou gegaan dat hy nie weet of dit die walvis was wat die geluid gemaak het of die buiteboordmasjien nie.
“Al drie mans was waternat. Hulle moes eers die skuit leeg skep voordat hulle verder kon visvang.
“Kort daarna het hulle vyf walvisse in die nabyheid gesien. Die grotes het die skuit met rus gelaat. Die kleurlinge het aan mnr. Steinberg gesê dat hulle maar liewer nie see toe wil gaan solank die walvisse hier rondswem nie.”
Eerstes wat walvis ‘ry’
“Sover vasgestel kon word, is mnr. Steinberg-hulle die eerste mense op Hermanus wat op ’n walvis se rug gery het.”. In nog ’n skrywe op ’n reisblog deur Eleanor Damon skryf sy: “Ek het saam met my oupa Ed in Duitsland grootgeword. Ouma Juna was toe al oorlede en ek kan haar nie onthou nie. Oupa het daarna by ons kom bly. Hy het my die wonderlikste stories oor Afrika vertel – veral oor Ouma, sy groot liefde, die oorlog en sy vlug na Duitsland.
“As hy eers begin sing ‘Ich weiss nicht was soll es bedeuten Dass Ich so traurig bin . . .’ weet ek dat hy na haar en sy geboorteland verlang. As hy dan begin vertel oor hul ontmoeting in Westcliff skitter sy oë soos diamante en rol die trane vrylik.
“Luister mooi, Kindjie – jou ouma was die mooiste mens wat ek ooit geken het. Dit was net so ná die Anglo-Boere-oorlog dat ek my so verboos het vir die onregverdigheid van mense. Ons het hard geveg, die oorlog gewen en toe ons medaljes moes kry, is ons hare kwansuis nie goed genoeg nie.
“ ‘Hare, Oupa?’ ‘Ja, hare. Kyk altyd na mense se hare. In my land, Mzanzi, is hare baie belangrik. Daar is kroes, krullerig, glad, geel, swart en rooi hare. Ek stam uit die krulhaarmense. Jy moet my belowe, al lewe ek nie meer nie, dat jy jou ouma se mense sal gaan soek op Westcliff.’
“ ‘Waar is Westcliff, Oupa?’ ‘Dis in ’n dorpie, Hermanus, langs die see. Hulle noem dit die walviswêreld. Dis ’n plek waar daar ’n treinstasie is sonder ’n treinspoor.’ As hy dit vertel, lag hy dat hy krul van lekkerte. Hy het Ouma altyd daaroor geterg, sê hy. Dan het sy hom in hul moedertaal sleggesê sodat Westcliff se see hom nie sou kon afwas nie!
“ ‘Die mooiste plek op aarde, sê ek jou. Ek los vir jou genoeg geld en jy koop vir jou ’n huis daar en jy vertel die mense daar dat jou oupa sy bruid daar kom haal het. Maar, ek moet jou waarsku – die geelhaarmense glimlag, maar lag nie. Hul oë is leeg. Die kroeshaarmense praat net met hul eie mense en hulle is baie hardwerkend. Die krulhaarmense praat en lag met almal. Hulle is die vissermanne en hulle het warm harte.
“ ‘Toe ek met jou ouma daar weg is, het ek myself belowe om nooit terug te gaan nie. Maar noudat ek oud geword het, wil ek hê jy moet gaan kyk wat ek gesien het en waar ek my hart verloor het.’
“Dit was twintig jaar gelede. Oupa Ed het gesterf en in sy testament het hy vir my ’n groot som geld gelos met die voorwaarde dat ek ’n huis in Westcliff moes koop. Ek was gevestig en gelukkig en het nooit gedink ek sal Oupa se wense waar maak nie. Ek het alles verkoop en Westcliff toe gegaan toe ek per toeval ’n advertensie in die plaaslike koerant sien:
HUIS TE KOOP IN WESTCLIFF, HERMANUS!
“ ‘Dis nie waar nie. Oupa, doen jy dit nou so? As ek moet gaan, moet ek gaan. Die koop is afgehandel en ek land met net twee tasse klere om my nuwe lewe te begin. Julle, die wêreld is verby mooi en die geld nog mooier. Dis glad twintig keer meer werd in my nuwe land. Hier wil ek sterwe!
“My eerste uitstappie is vir kos. Oral in die restaurante en op die sypaadjies sit mense lustig en eet. Toe ek na my sitplek gewys word, kom ek agter dat iewers hier ’n orde is wat ek vaagweg uit Oupa se vertellings onthou. Die geelhaarmense eet en die krul- en kroeshaarmense bedien. Almal praat egter dieselfde taal.
“Ek sal baie vinnig hierdie taal moet leer, anders sal ek nie die mense verstaan nie. Ná my ete vra ek in my mooiste Engels waar ek inkopies kan doen. In die supermark merk ek dieselfde orde op. Hierdie keer is die geelhaarmense die supervisors, terwyl die res van die personeel die mense bedien.
“Ek keer met ’n verwarde gemoed terug huis toe. Sien ek dinge raak wat nie bestaan nie, of is dit die onregverdigheid waarvan my oupa my vertel het? Ek probeer hierdie gedagtes uit my kop kry deur ’n staptog deur die buurt te neem. As dit is soos Oupa my vertel het, sal ek rondvra waar Ouma Juna se mense bly en so met my familie herenig.
“Ek waai by ’n kafee in en vra uit oor my mense. Die dame agter die toonbank kyk my met groot verbasing aan. Ek weet nie of ek dalk ’n fout gemaak het en of ek miskien onwetend gevloek het nie. Ná ’n rukkie van stilte probeer sy my in gebroke Engels vertel dat die krulhaarmense nie meer in Westcliff bly nie. Hulle is verskuif na Mount Pleasant. Ek moet daar by die skool of kerk navrae doen en ek sal definitief my mense kry. Voordat ek loop vra sy my uit pure nuuskierigheid hoekom ek so snaaks praat.
“Ek glimlag net, want dis ’n lang storie en daar het toe pas twee mense die kafee ingekom. Ek praat Duits en Frans en kom reg met Engels, antwoord ek haar in my kop. Wat is so snaaks daaraan? Ek wil haar nog vra om my haar taal te leer, en hoe verskuif ’n mens ’n mens, maar dit sal moet wag tot ’n volgende keer.”





