Bunty Cope en Eric Mair van Stanford maak gereed om bloed te skenk in die VGK-saal in Bergsig. Bo is hulle saam met personeel van die Wes-Kaapse Bloeddiens. Stephen Wildschut, skenkerverteenwoordiger vir die omgewing, staan regs agter.Foto: Mitzi Buys


Junie was Nasionale Bloedskenker-maand met “Wees ’n Held” as een van die slagspreuke. En dít is presies wat bloedskenkers is – helde – want een skenking kan tot drie lewens red.

Die Wes-Kaapse Bloeddiens hou maandeliks ’n bloedskenkkliniek by die Wes-kerk in Caledon, maar Maandag 26 Junie is daar vir die eerste keer ook ’n bloedskenkkliniek in die VGK-saal in Bergsig gehou.

Hermanus Times het met Stephen Wildschut gesels oor hierdie eerste.

“Dit is uiters moeilik en duur vir mense wat nie vervoer het nie om by die Wes-kerk uit te kom, daarom het ons besluit om ’n kliniek in Bergsig aan te bied.

“As die amptelike skenker-verteenwoordiger vir hierdie gebied het ek met die gemeenskap geskakel en ek het plakkate, wat deur die Wes-Kaapse Bloeddiens voorsien is, by winkels hier opgeplak, asook twee in die middedorp, onder meer by die Info-kiosk.”

“Die koue, nat weer het skenkers moontlik weerhou om vandag bloed te skenk, maar ons hoop dat hulle in die toekoms in groter getalle sal opdaag. Ons beoog om die kliniek hier in die VGK-saal elke tweede maand aan te bied,” sê Wildschut.

Candice Sinclair, streekskakelbeampte en bemarkingstoesighouer vir die Wes-Kaapse Bloeddiens, sê: “Ons is baie opgewonde om die kliniek hier te kan aanbied en ons dink dit is ’n goeie ding vir die gemeenskap, want dit is makliker bereikbaar.

“Ons wil graag soveel nuwe skenkers moontlik bereik en hulle aanmoedig om bloed te skenk.”

Die prosedure om bloed te skenk, is eenvoudig en neem slegs omtrent ’n halfuur, maar daar is ’n paar vereistes waaraan voldoen moet word:. Eet ’n goeie maaltyd voor jou skenking;. Wees tussen 16 en 75 jaar oud;. Weeg 50 kg of meer;. Geniet goeie algehele gesondheid;. Handhaaf ’n veilige seksuele lewenswyse.

Goed opgeleide personeel is teenwoordig om u deur die hele proses te help.

Sinclair noem dat bloedvoorraad tans baie min is en moedig mense aan om bloed te skenk. Onthou, een skenking kan tot drie lewens red en ’n mens weet nooit wanneer jy of jou geliefdes dit mag nodig hê nie, so wees ’n held en skenk bloed.

Eric Mair en Bunty Cope het al die pad van Stanford gekom om hier by die VGK-saal te kom bloed skenk.

Op ’n vraag oor hoekom hulle juis hierheen gekom het, het Mair geantwoord daar is geen bloedskenkingsdiens in Stanford beskikbaar nie en hulle het op die webtuiste van die Wes-Kaapse Bloeddiens (www.wcbs.org.za) gesien dit word hier in die VGK-saal aangebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article