Die opgewonde groep kinders wys hulle stok- en blikkiebrode wat hulle by die museum gebak het. Foto: Mitzi Buys


Die Caledon-biblioteek het verlede week van 3 tot 7 Julie ’n interessante vakansieprogram vir kinders by die biblioteek aangebied, wat ’n fliek, kunsvlyt en skattejag by die plaaslike museum ingesluit het.

Maar die aktiwiteit wat gewis die meeste aftrek gekry het en waaroor die kinders baie opgewonde was, was die bak van stokbrood en blikkiebrood by die ou huismuseum.

Marlon Sauls, opvoedingsbeampte van die Caledon-museum, het die kinders op ’n toer deur die museum sowel as die huismuseum geneem. Sauls sê dit was besonders om hierdie laerskoolkinders by die museum te hê, want gewoonlik gaan hy na die skole om praatjies oor die museum aan te bied. “Ek het gesien hoe hul gesigte verhelder toe hulle al die artefakte gesien het. Ek glo dit was ’n baie positiewe ervaring vir hulle,” sê Sauls.

Toe dit tyd word om hulle broodjies te bak, kon die kinders hul opgewondenheid skaars in toom hou.

Gaylene Newman van die museum het die deeg voorberei en die kinders gewys hoe om dit om stokke te draai en ook die blikkies wat die kinders saamgebring het, voorberei en met deeg gevul. Die stokbrode is buite, onder toesig van museum- en biblioteekpersoneel, oor kole gebak terwyl die blikkiebrode op die houtstoof van die museumhuis se kombuis gebak is.

Toe al die broodjies gaar was, is botter en konfyt voorsien en almal kon heerlik aan hul broodjies smul.

Die kinders het hierdie aktiwiteit só geniet dat van hulle drie keer stokbrood gaan bak het, terwyl een seuntjie gevra het of hy bietjie deeg in sy blikkie kan huis toe neem “want vanaand gaan ek vir pappa vra om vuur te maak en vir hom wys hoe om blikkiebrood te bak.”

Gerhard van Wyk van die biblioteek sê: “Ons is baie dankbaar vir die museum wat ons altyd met programme huisves, en in samewerking met hulle kon ons die kinders se kennis verbreed. Baie van hulle was nog nooit in ’n museum nie, en vandag het hulle baie geleer en sommer hope pret gehad ook.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article