Hulle is ‘n gedugte span wat feesgangers van oor die land heen vermaak. Almal ken die bekroonde reisjoernalis, Dana Snyman se verhale. Uit sy pen het daar al baie produksies gekom waar hy en die bekende akteur Frank Opperman kragte saamsnoer om mense te vermaak.
Ons dink aan Klaagliedere van Dominee Tienie Benade wat selfs die grootskerm gehaal het en ander eenmanstukke soos Die uwe, Pottie Potgieter, Hond en Donkie .
Tydens die jaar se Hermanus-Kalfiefees span hulle weer saam mt die produksie Reünie – dit is dieselfde skoolsaal, maar dit is 40 jaar later vir die 1980-matriekgroep. Ja, dit is tyd vir ’n reünie, soos beleef deur Petrus Boshoff, wat as verteller optree. Dit gaan ‘n produksie vol pret en plesier wees, soos net Dana dit kan beskryf. Die produksie is een van die hoogtepunte van die Hermanus-Kalfiefees en die regie is behartig deur die jong opkomende De Klerk Oelofse.





