Dit is duidelik dat Creation Wines in die Hemel-en-Aarde-vallei nie net wêreldwyd uitblink as die beste wynplaas in Afrika en die vierde beste wynplaas in die wêreld nie, maar dat sy werknemers ook op alle vlakke presteer.
Tydens die Agri-prestige-plaaswerker van die jaar se streekskompetisie wat Woensdag in Bredasdorp gehou is, het Catherine Deez in die kategorie lynbestuurder van die jaar uitgeblink – sy het ’n tweede plek behaal.
“Ons wil net vir Catherine baie geluk wens met haar prestasie en is baie trots op haar,” het Creation Wines op sy Facebook-blad gesê.
Volgens die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, is die kompetisie ’n toonaangewende maatskaplike opheffingsprojek van die departement. “Om erkenning aan ons landbouwerkers te gee, inspireer hoop en ’n gevoel van waarde. Dit is belangrik om in ons landbouwerkers te belê wat ’n deurslaggewende deel van hierdie sektor is,” het Meyer in Mei tydens ’n geleentheid in Hermanus gesê toe die kompetisie van stapel gestuur is.
Deelnemers sal in 11 afdelings meeding– algemene plaaswerker, drywer, besproeiingspesialis, tegniese operateur, diereproduksie, administratiewe personeel, maatskaplike ontwikkeling, landbouverwerking, voorman, junior bestuur en middelbestuur.
Die wenner en die Wes-Kaapse Prestige-Agri-werker van 2023 sal op 4 November by ’n glansgeleentheid aangekondig word.
Creation wines het ook ander deelnemers wat aan die kompetisie deelgeneem het, Aswille Davids, Masibonisane Mxhanywa, Trecline Deez en Sindiswa Kalu.





