Dit het Vrydag begin en ná jare se beplanning en maande se kopsorge is die wêreldbeker-netbaltoernooi uiteindelik hier.
Dié toernooi, wat elke vier jaar beslis word, word van 28 Julie tot 6 Augustus in die Kaap aangebied.
Hermanus Times het by die Hermanus-netbalklub gaan uitvind oor hoe hulle as span oor die toernooi voel en wie die gunstelinge is wat vanjaar as die wêreld se beste aangewys kan word.
“Ons is super opgewonde en sien uit na hierdie groot gebeurtenis. Dit is vir ons ’n eer dat ons die 2023-netbal-wêreldbeker op eie bodem kan beleef en die vroue kan ondersteun,” het Lizelle Munnik, die klubvoorsitter, namens die span gesê.
Volgens die toernooidirekteur, Priscilla Masisi, was 60% van die kaartjies teen 24 Julie reeds uitverkoop om die 16 lande wat aan die toernooi gaan deelneem, te ondersteun.
Kaartjies vir die openingswedstryd en die eindstryd is ook vroeg reeds uitverkoop. As mense nie die toernooi in lewende lywe kan bywoon nie, kan hulle die wedstryde by toeskouerparke oor Suid-Afrika heen op groot skerms volg.
Volgens Lizelle het van Hermanus-netbalklubspelers kaartjies vir die openingswedstryd bekom. “Van ons spelers het die openingswedstryd bygewoon en ander het ook kaartjies bekom om wedstryde by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) by te woon. Ons ander het besluit om maar bymekaar te kom en dit via SuperSport te kyk,” vertel sy.
Die huidige wêreldkampioen, Nieu-Seeland, en die Australian Diamonds is van die gunstelinge om die toernooi te wen.
Lizelle sê: “In ons harte hoop ons dat die Spar Proteas na die eindstryd sal deurdring en dan ook as algehele wenners gekroon sal word. Ons weet ook al te goed dat ’n mens nie enige ander spanne kan of moet onderskat nie. Die Spar Proteas het die potensiaal om nou – meer as vantevore – teen enige ander netballand mee te ding; juis omdat ons ook nou spelers het wat in internasionale ligas speel.
“Die span het ’n uitmuntende afrigter in Norma Plummer en hulle het goed vir die toernooi voorberei. Ek glo elke speler in daardie span is slaggereed om Suid-Afrika op die netbalbaan te verteenwoordig.
“SA het in die vorige wêreldbeker-netbaltoernooi baie goed gedoen en indien hulle weer sulke spel kan oplewer, is ’n medalje nie onmoontlik nie. Die Proteas het in 1995 laas op die podium gestaan toe ons ’n silwermedalje gewen het – dus is niks onmoontlik nie.”
Die span is dit eens Karla Pretorius is gewis ’n gunstelingspeler in die groep vanweë haar ongelooflike vaardighede op die baan as verdediger.
“Sy word in internasionale netbalgeledere hoog aangeskryf en is ’n staatmaker vir haar spanmaats wanneer balle onderskep moet word,” het Lizelle afgesluit.
Teen druktyd het die Proteas vir Wallis, Sri Lanka en Trinidad en Tobago gewen en teen Jamaika verloor.




