Rene Hartslief en Marcelino Henckert Foto’s: Mariëtte Strydom


Dis ’n plek waar vreemdelinge ontmoet, om ’n glas wyn kuier en as vriende terugkeer; ’n plek waar jy agterkom waarom dit bekend staan as die Hemel-en-aarde-vallei vanweë die uitsig – nie net oor die vallei nie, maar ook oor die see.

Die Bouchard Finlayson-wynlandgoed in die Hemel-en-aarde-vallei, wat aan die Tollman-familie behoort, is al ’n huishoudelike naam in die Overberg. Maar die gewilde wynlandgoed met sy boetiekwyne raak al meer gewild in die res van Suid-Afrika – dis nie meer vreemd as van die gewilde wyne in restaurante oor Suid-Afrika heen bestel kan word nie.

Bouchard Finlayson het verlede Maandag van sy kliënte genooi vir ’n onvergeetlike aand van saamkuier om ’n lekker bord kos en van die beste wyn. Met die intrapslag is jy bederf met ’n heerlike sauvignon blanc en later het die wynmaker Chris Albrecht die gaste meer ingelig oor die verskillende wyne en hoe dit gemaak word.

Chris se liefde en passie vir die wynmaakproses en veral vir Bouchard Finlayson is aanvoelbaar.

Hy vertel: “Ek het in 2010 by die Bouchard Finlayson-familie as assistentwynmaker aangesluit en is in 2017 tot wynmaker bevorder.” Chris se kennis en ervaring ken geen gelyke nie en hy het al in lande soos Frankryk, Kalifornië en Nieu-Seeland gewerk.

Die bestuurder, Roelf du Plooy, het die gaste verwelkom en gesê die doel van die aand was om almal vir hul lojale ondersteuning te bedank. “Ek het ook ’n boodskap van die Tollman-familie om julle almal te bedank vir jul ondersteuning die afgelope jare,” het Du Plooy gesê.

Vir die aandeelhouers en werknemers van Bouchard Finlayson is die volhoubaarheid van die grond vir hulle van onskatbare waarde. Die landgoed bestaan nie net uit wingerde nie, maar ook uit fynbos, wat uniek aan die omgewing is.

Maar Bouchard Finlayson bied meer as net uitsoekwyne op die plaas. Besoek jy die wynlandgoed, dan is dit ’n onvergeetlike ervaring. Met sy unieke proelokaal en kaasborde leer jy meer oor die pinot noir en ander wyne wat jou weer en weer na dié wynlandgoed sal laat terugkeer.. Vir nog inligting oor die verskillende wynproe-opsies en om meer oor die wynlandgoed uit te vind, kontak Bouchard Finlayson by 028 312 3515.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article