Die bobbejane veroorsaak weer chaos in Pringlebaai.
Só lui ’n verklaring deur die Overstrand-munisipaliteit nadat hulle verskeie klagtes oor die bobbejane gekry het.
Volgens inwoners is dit die een bobbejaanmannetjie, wat Blue Tag heet, wat die moeilikheidmaker is.
“Die bobbejaan het sy vrees vir mense verloor en inwoners word letterlik van hul kruideniersware beroof as hulle uit die winkels kom en sommige inwoners het ook geringe beserings opgedoen nadat hulle met Blue Tag te doene gekry het,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê.
Dit het ook aan die lig gekom dat Blue Tag nie oorspronklik deel is van die Pringlebaai-trop nie, maar van Gordonsbaai kom.
“Die munisipaliteit is tans besig om met die betrokke amptenare van Stad Kaapstad te onderhandel om Blue Tag te vang en hom weer na sy oorspronklike habitat te neem. In dié stadium wil ons ook bevestig dat HKM1 op 9 Augustus by die Silversands-trop aangesluit het en ons het nog geen inligting oor HKM1 gehad sedert hy van trop verander het nie. Hy was oorspronklik deel van die Hangklip-trop,” het O’Neill gesê.
Volgens verslae het REM1 die leier van die Pringlebaai-trop geword en is die trop veral doenig in die sakekern en woonbuurte. “REM1 is besig om die jong bobbejane te leer en dit is sal onverstandig wees om die mannetjie uit die trop te verwyder aangesien dit die sosiale struktuur van die trop sal ontwrig. Die munisipaliteit sal wel ’n wakende oog oor hul doen en late hou,” het O’Neill gesê.
Die munisipaliteit bring dit ook onder die inwoners se aandag dat dit onwettig is om bobbejane te voer en dat hulle nie moet inmeng met die amptenare se werk wat betref die hantering van die bobbejane nie.




